Vrydag 8 November

Jan Braai vir Erfenis, kykNET, 19:30

Hy is ons eie lekker ou Jan, ’n ware man wat behoorlik kan braai. Jan besoek vanaand Namibië se twee groot kusdorpe, Walvisbaai en Swakopmund. Die span onderneem ’n opwindende bootrit en leer meer van die seelewe van Walvisbaai. Dan vaar Jan die woestyn in en ondersoek die biodiversiteit van die gebied. Hy wys jou ook hoe om ’n Portugese beespotjie op die vuur te berei. Dalk kan jy ’n paar wenke kry vir ’n lekker dis vir jou eie kole die naweek... Mmm raak jy ook al honger?

Wreck-It Ralph, M-Net Movies (kanaal 103) 16:30

Selfs al het hulle dit klaar gekyk, sal die kleingoed dol wees oor dié fantastiese animasiefliek. Die titel laat dit dalk na ’n fliek vir seuntjies klink, maar meisies sal ook daarvan hou danksy die oulike wysneus, Vanellope von Schweetz, wat Ralph se enigste kans is om die arkadespeletjies te red.

House Of Cards, M-Net 21:30

Eerste episode!

As daar nou een dramareeks is wat jy nie mag misloop nie, is dit dié een! Kevin Spacey is briljant as die gegriefde kongreslid Underwood wat wraak soek nadat die president hom in die rug steek en nie aanstel as minister van buitelandse sake nie, ’n amp wat hy bitter graag wou hê. Kyk dit, al is dit net vir sy direkte kommentaar aan die kykers waar hy sy bose planne verduidelik.

Saterdag 9 November

Wêreldrugby, M-Net/SuperSport 18:30

Dis tyd vir die Outbound-toer en die Bokke draf uit teen Walliese span in hul agterplaas. Wie gaan koning kraai by die Millennium Dome? Daar’s net een manier om uit te vind!

Stepbrothers, e.tv 22:10

Lus vir lekker lag? Kyk hoe Will Ferrell en John C. Reilly volwasse kinders speel wat gedwing word om saam te bly wanneer hul geskeide ouers met mekaar trou. As jy nie skater van die lag nie, het jy nie ’n humorsin nie.

Sondag, 10 November

X2, e.tv 20:00

Laat jou innerlike monster vanaand los, want Wolverine en sy mutant-vriende is terug. Prof. Xavier se studente het geleer hoe om hul magte te beheer en vir ’n goeie doel aan te wend om die mensdom te help, en moet nou vasstel wie het die president probeer doodmaak.

Visionaries, SABC3 20:30

Tyler Perry, Anna Wintour, Tom Ford, James Cameron, Beyoncé . . . as jy meer oor dié bedryfsleiers wil weet, skakel in vir die weeklikse dokumentêr om te kyk wat hulle aanvuur.