Wat is vanaand op die kassie?

17:29 Woef & Kie (kykNET): Ons vind meer uit oor mopshonde en leer meer oor honde wat opgelei word om renosterstropers te vang. Die verskillende sierduifrasse word bekyk, asook die nuwe Amerikaanse honderas, die Shorty Bull.

19:30 Kwêla (kykNET): Dis die tweede aflewering van die Feite & Geite-videokompetisie. Vanaand se gaste sluit in Irene Fischer, wat haar lewe volstoom aanpak ná ’n gru-ongeluk, en die entrepreneur Abigail Florence, wat die handwerkonderneming Elves at Work op die been gebring het.

20:00 Cass Se Kombuis (kykNET & Kie): Die Nederlanders het ’n ryk koskultuur in Suid-Afrika agtergelaat en Cass wys hoe om die heerlikste aartappelgereg, melktert, souskluitjies en aartappelpoeding met Tutti-Frutti te maak.

20:30 The Ultimate Braai Master (SABC3): Die agt oorblywende deelnemers is by Rhodes in die Oos-Kaap en trotseer die elemente: Hulle moet in die yskoue braai en yswater trotseer.

20:30 The Mentalist (M-Net): Jane hoop om nog inligting oor Red John uit Jason Lennon te kry, al is dié in ’n koma.

21:30 Family Tree (M-Net): Bea en Monk doen ’n oudisie om by ’n kinderpartytjie op te tree. Tom begin dieper in sy oupa se lewe delf.

Let asseblief op: Huisgenoot kan nie die akkuraatheid van die inligting verseker nie. Netwerke pas hul uitsaairooster volgens hul diskresie aan.