Dit is vanaand op die kassie:

17:00 The Ellen DeGeneres Show (M-Net): Ellen is weer op haar stukke! Die komediant gesels met bekendes en gewone mense met buitengewone stories en sy voer ’n paar danspassies uit.

18:30 7de Laan (SABC2): Al die Hillsiders is vanaand in die klub om Bok van Blerk se optrede te sien. Errol beskou dit as ’n kans om Petro te beïndruk. Sal die twee verlief raak? Die nuus versprei dat Snakes nie meer in die tronk is nie. Het hy iets te doen gehad met Lindile se situasie?

18:30 kykNET Flaters 2014 (kykNET): Lag lekker saam met die kykNET-akteurs en -aanbieders in hierdie spesiale blik van wat in 2014 agter die skerms verkeerd geloop het.

18:30 Got to Dance (M-Net): Kyk hoe Ashley Banjo, Kimberly Wyatt en Adam Garcia hul soektog voortsit om die VK se talentvolste dansers op te spoor.

19:30 Binnelanders (kykNET): Zieg se laaste draai by Binneland Kliniek is werklik sy laaste toe die apteker sowel as ’n dokter van ongevalle glad nie beïndruk is met hom nie. Gustav stuur Tertius huis toe, en Pippa bied ’n skouer aan om op te huil. Kobus se verligting (vir al die verkeerde redes) is van korte duur, en ’n rooftog steel ook iemand se laaste greintjie hoop.

20:00 Musiek Roulette (SABC2): Nadine toets deelnemers se musiekkennis met musiekspeletjies, en verskeie Afrikaanse kunstenaars sing hul gunstelingliedjies vir die gehoor.

20:00 Jou Show (kykNET): Adam Tas kuier in die ateljee en leer Wicus hoe om te mik en druk met ’n pyl en boog. Die pragtige Leandie du Randt vertel meer oor haar loopbaan en die pad wat sy moes stap tot waar sy nou is.

20:00 Club 808: Make Some Noise (e.tv): Kom kyk hoe die aanbieders ’n oorsig gee van al die nuutste musiek en nuwe kunstenaars.

20:30 Mind Games (M-Net): Die akteurs Christian Slater en Steve Zahn vertolk die rolle van twee koddige broers wat ’n probleemoplossingsfirma besit. Die span word ingeroep toe ’n tiener by ’n kultus betrokke raak.

21:00 Kickboxer 2: The Road Back (e.tv): ’n Man probeer sy eer terugwen deur die broer van die man wat hom verslaan het, uit te daag vir ’n geveg.

21:00 Die Nataniël Tafel (kykNET): Vergeet van al die jare se belaglike nuwejaarsvoornemens en lei jou gesin na ’n splinternuwe leefstyl sonder dat hulle dit eens agterkom. In die slotepisode wys ons geurige ligte geregte.

21:00 Vyfster (fliekNET: kanaal 198): Skollie is weer op vrye voet, met een brandende begeerte: om sy seuntjie, Johnny, weer te sien.

21:30 Allegiance (M-Net): ’n Luitenant moet moeilike besluite neem toe een van sy manne oor die lyn trap.

21:30 Formidabele Vroue (kykNET): Joernalis, politikus, mentor, kunsghoeroe, TV-aanbieder en ma, dit is Martie Retief-Meiring. Haar nuuskierige joernalistieke instinkte laat haar paaie steeds met bekendes in Suid-Afrika kruis.

22:30 Nikita (SABC3): ’n Skelm sluipmoordenaar keer terug om wraak te neem teen die organisasie wat haar opgelei het.