17:00 The Ellen DeGeneres Show (M-Net): Ellen is weer op haar beste! Die komediant gesels met bekendes, gewone mense met buitengewone stories en voer ’n paar danspassies uit.

17:30 Ilse Kook (kykNET): Ilse braai lam-platbrood met komyn en rissie. Dan maak sy geurige varktjops met preie en appels, 'n maklike polenta-tert en geroosterde mielies.

17:30 Hartskos (VIA): Elmarie se sielkunde via lewer-en-netvet. ’n Maaltyd kan ’n duisend dinge sê: Ek is jammer, ek mis jou of selfs trou met my. Sielkundige en kok Elmarie Claassens help ’n kombuis-leek om ’n ete vir ’n besonderse geleentheid te maak.

18:00 Die Kliek (VIA): Die perfekte pasmaat is dalk net ’n paar klieke weg! Die groep vroue is in beheer en die mans moet ’n goeie indruk maak, beide aanlyn en in die ateljee. Komediant Schalk Bezuidenhout is die aanbieder.

18:00 Suidooster (kykNET): Jerome gaan sonder Fasie se toestemming voort met sy planne om meisies te ontmoet. AB skop teen 'n naweek weg saam met Mymoena, maar sy gaan voort met haar planne. Almal wag angstig op Mrs J se tweede toetsuitslae.

18:30 7de Laan (SABC2): Hoekom is Linda in Hillside? Matrone en Hilda is bekommerd oor die mans in hul lewens. Is daar liefde op die horison vir Diederik?

18:30 Villa Rosa (kykNET): Dis die dag voor die troue en Fritz verras vir Lida met 'n present. Eben en Marcel maak vrede, terwyl Beulah vir Petrus boelie. Cardo is op pad Johannesburg toe en Celine twyfel of sy hom moet laat gaan.

19:30 Binnelanders (kykNET): Nog 'n bedanking stuur skokgolwe deur Binneland Kliniek en Steve is nie beïndruk met sy swaer nie. Pippa is gespanne oor wat sy alles op die spel plaas en Danny ontduik vrae oor sy toekomsplanne.

20:00 Kwêla (kykNET): Ons kuier op die PUK en kyk hoe Adri Visser die swembad en studentwees bemeester. Ons draai aan die Wes-Kus by Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier en Marita van den Vyver, kuier ook op die bank.

21:00 Sterlopers (kykNET): Die teatergeselskap word gekonfronteer met 'n moeilike besluit wanneer 'n buitelandse vervaardiger belangstelling in hul produksie toon. JayDee probeer van Emma vergeet. Ingrid besluit om haar toekoms in eie hande te neem.

21:30 Verslag (kykNET): ’n Oorsig van die dag se nuusgebeure.