17:00 ’n Song vir Emily (fliekNET): Dié gedramatiseerde dokumentêre program is ’n vertelling van ’n ontdekkingsreis waarop die sangeres, liedjieskrywer en komponis Karen Zoid gaan. Sy ontdek die verhaal van die Engelse filantroop Emily Hobhouse, wat gewerk het tussen die Boerevroue en -kinders gedurende en ná die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902).

17:00 The Ellen DeGeneres Show (M-Net): Ellen is weer op haar stukke. Die komediant gesels met bekendes, gewone mense met buitengewone stories en voer ’n paar danspassies uit.

17:30 Kry Daai Lyf (kykNET): As jy ’n probleem met pap maagspiere het, sal spesiale oefeninge soos dié wat Linda Kriel demonstreer, jou beslis help. ’n Hele oefenprogram vir jou maag met wenke om ’n plat maag te kry.

18:30 Villa Rosa (kykNET): Paul sukkel steeds om tot Carina deur te dring en waardeer Stef se raad. Nadat Fritz Astrid op haar plek gesit het, onderneem sy om tydens die feestyd te bewys dat haar bedoelings opreg is. Stef en Marius is steeds haaks, wat Vicky laat besluit om in te gryp. Die ete waartydens Isabel Fritz aan ’n vriendin wou voorstel, verloop nie heeltemal volgens plan nie.

18:30 The X-Factor UK (M-Net): Kyk hoe Louis Walsh, Simon Cowell, Cheryl Fernandez-Versini en Mel B nuwe talent ontdek.

18:30 7de Laan (SABC2): Marko is spyt dat hy nie vir Emma vroeër gevra het om te trou nie en Bertus verloor sy rugbybeurs.

19:30 Binnelanders (kykNET): At stel ’n ooreenkoms op wat hy nie van plan is om na te kom nie, en Michelle vra na Morné. Daleen kry ’n teken dat haar vermoedens reg is, en Rian se goeie nuus vir Tertius hou nie lank nie. Jana en Jenny kry die wind van voor, en Naomi is nie gelukkig met Kobus se besluit nie.

20:00 Die Nataniël Tafel (kykNET): Vier jou sukses of blote oorwinning met ’n spesiale spyskaart. Bring hulde aan ’n eregas of bedank ’n paar geliefdes vir nog ’n jaar. Vergeet van moeë hotelle en luidrugtige restaurante; doen dit tuis.

20:30 America’s Got Talent (e.tv): Kyk hoe Sharon Osbourne, Piers Morgan en Howie Mandel nuwe talent ontdek.

20:30 Vallei Van Sluiers (kykNET): Monique se groot nuus het almal in die Vallei gaande. Hugo se vrylating uit die tronk het ook almal aan die praat, nie altyd met goeie gevolge nie. Maar dan maak Hugo dit ook nie altyd maklik vir mense om van hom te hou nie, soos hy maar sy hele lewe lank doen. Dan, in ’n onbewaakte oomblik, is die wag nie voor iemand se mond nie en word ’n saadjie geplant met verreikende gevolge vir almal.

20:30 Nikita (SABC3): ’n Skelm sluipmoordenaar keer terug om wraak te neem teen die organisasie wat haar opgelei het.

22:30 Bates Motel (M-Net): Norman distansieer homself van Norma. Dylan moet ’n moeilike besluit neem.