[post-slider]
Volgens Toyota het hulle R1,2 biljoen in die nuweling belê – daar is glo ’n 1 000 nuwe onderdele ontwikkel en 576 000 werkure aan die verfyning van die Yaris bestee.

Daar is drie Yaris-modelle, waarvan twee petrolenjins het, terwyl die topmodel ’n hibried-motor is. Die petrolenjins is onderskeidelik 1,0 L en 1,3 L groot, en albei het ’n vyfspoed-handratkas, maar die 1,3 L en die hibried-model is ook met ’n palwisselende outomatiese ratkas beskikbaar.

Daar is ’n behoorlike visuele verfrissing binne en buite, terwyl Toyota in die binneruim ook materiaal met ’n beter gehalte gebruik het om die Yaris

begeerliker te maak.

Die mees dramatiese ontwerpsverandering is aan die Yaris se neus, waar daar ’n nuwe sierrooster en hoofligte is – dit lyk ook nou meer soos ander nuwe Toyota-modelle, soos die Corolla en Auris.

Die kopligte self gebruik projektor-tegnologie (in die hibried-model) vir sy hoë- en dompelstrale, terwyl die nuwelinge ook ingeboude dagryligte (ligdiodes vir die hibried-weergawe) as deel van hul standaard-toerusting het.

Van die kant gesien pronk die nuwe Yaris met ’n nuwe deurgordel en kantspieëlhulsels, terwyl die hele reeks se kantaansig met 15-duim-allooisierwiele afgerond word.

Enjins

  • 1,0 L petrol: 51 kW, 91 Nm; gemiddelde verbruik: 5 L/100 km
  • 1,3 L petrol: 73 kW; 135 Nm; gemiddelde verbruik: 5,6 L/100 km of 5,5 L/100 km (outo)
  • 1,5 L hibried-petrol: 77 kW (55 kW van enjin, 45 kW van battery), 110 Nm; gemiddelde verbruik: 3,6 L/100 km

Volgens Toyota het al die modelle meer standaardtoerusting, onder meer dagryligte (ligdiode-weergawes vir die hibried-model), elektriese vensters voor en agter, en die jongste Toyota Touch Multimedia-klankstelsel (met Bluetooth).

Ander standaard-eienskappe sluit in afstandbeheerde sentrale sluiting, lugversorging, elektries verstelbare buite-truspieëls, kragstuur, twee lugsakke voor sowel as kantlugsakke, en ABS (sluitwerende remme) met EBD (elektroniese remkragverdeling) en BA (noodremhulp).

Die petrol-modelle het ’n diensplan van drie jaar of 45 000 km. Die hibried-weergawe het ’n diensplan vir vier jaar of 60 000 km. Let asseblief ook dat die hibried-model ’n bykomende waarborg van agt jaar of 195 000 km vir die battery het benewens die gewone Toyota-waarborg van drie jaar of 100 000 km.

Pryse

  • 1,0: R167 900
  • 1,3: R194 300
  • 1,3 Multidrive S (Outo): R206 500
  • Hibried (Outo): R276 900