Toyota se gewilde Hilux- en Fortuner-stalmaats het effens onder die snymes deurgeloop. Die meeste van die veranderings is aan die binnekant, waar al twee modelle die nuwe swart voorpaneel kry (teenoor die gryse wat uitgefaseer word). Die Fortuner se bekleedsel verander na swart leer vir die 3,0- en 4,0-weergawes om by die kleur van die nuwe binneruimbeslag te pas, terwyl die 2.5-weergawes bypassende swart doekstofbekleedsel kry.

’n Splinternuwe multimedia-stelsel (wat nou ’n grootskerm-monitor het) is deel van die standaard-toerusting in die hoëklas-Hilux-modelle (3,0 D-4D- en 4,0 V6-dubbelkajuite) sowel as die Fortuner 3,0- en 4,0-weergawes. Van die nuwe stelsel se eienskappe is ’n toestel waarmee ’n mens na foto’s kan kyk, video/DVD-speler (wanneer die voertuig stilstaan), volkleur-kunsalbum en uitgebreide raakvlak-kategorieë soos om musiek af te laai.

Die Fortuner 2,5 D-4D-handrat- en outomatiese modelle kry ’n opgekikkerde multimedia-klankstelsel met ’n groter skerm en bykomende eienskappe in die vorm van ’n handvrye Bluetooth-telefoonstelsel.

Die Hilux 3,0- en 4,0-dubbelkajuitmodelle kry net soos die Fortuner 3.0- en 4.0-modelle ook ’n trurat-monitor as deel van hul standaard-toerusting.

In ’n oogopslag:

  • Hilux en Fortuner – swart afwerking vir die voorpaneel
  • Fortuner 3,0 en 4,0 – swart leer
  • Fortuner 2,5 – swart doekstofbekleedsel
  • Hilux 3,0- en 4,0-dubbelkajuite / Fortuner 3,0 en 4,0 – splinternuwe multimedia-stelsel met bykomende eienskappe
  • Hilux 3,0- en 4,0-dubbelkajuite (Hoëromp- en 4x4) – trurat-monitor
  • Fortuner 2,5 – verbeterde multimedia-stelsel

Toyota-2

toyota-3