Die jongste Toyota Corolla is weer ’n goed vervaardigde gesinsedan sonder fieterjasies.

Al is sy voorkoms nie so glansryk soos die Kia Cerato of Hyundai Elantra s’n nie, het Toyota wel die stilering aangepas en lyk dit nou stylvoller.

Daar is ook geen twyfel dat die Corolla betroubaar is nie en in die vele behoeftes van ’n gesin kan voorsien.

Die indrukwekkendste eienskap is die binneruim, veral agter, waar daar baie beenruimte is. Al is die ontwerp van die instrumentpaneel (wat hy met die Auris deel) nie die mooiste nie, is dit funksioneel en alles is binne die bestuurder se reikafstand. Verder lyk die bougehalte goed en is van ’n hoër gehalte as sy voorganger.

Ons toetsmodel, die 1,4 L D4D Prestige, het al die nodige veiligheids- en gemakseienskappe, insluitend ABS-remme met EBD en EBA, ses lugsakke, leerbekleedsel, ritbeheer, klankkontroles op die stuurwiel, ’n klankstelsel wat CD’s, DVD’s, en USB-toestelle kan speel en Bluetooth-konnektiwiteit.

Die 1,4 L-turbodieselenjin ontwikkel 66 kW teen 3 800 r.p.m en 205 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 r.p.m. Die topspoed is 180 km/h en hy versnel binne 12,5 sekondes van 0 tot 100 km/h. Een van die Corolla se groot trekpleisters is sy beweerde brandstofverbruik van 4,5 L/100 km. Die motor het ’n sesspoedhandratkas, wat getuig van Toyota se pogings om sy ratkaste te verbeter. Die ratwisseling is glad en moeiteloos.

In die algemeen gedra die Corolla hom goed op die pad en bied ’n genotvolle rit; die padgeraas word goed gedemp. Sy sagte vering absorbeer ongelykhede goed, en die motor is redelik verfyn op die oop pad.

Slotsom

Die Corolla moet nou baie mededingers die hoof bied, veral van Koreaanse vervaardigers, maar dié weergawe sal nie teleurstel nie; dis ’n goeie gesinsedan wat solied en veilig voel. Die tydskrif Car het dit ook as die beste motor in sy segment aangewys. As jy op soek is na ’n goeie gesinsmotor, moet jy beslis die Corolla oorweeg.

  • PRYS: R249 000
  • ENJIN: 1,4 L-turbodiesel; 66 kW, 205 Nm
  • VERBRUIK: 4,5 L/100 km
  • DIENSPLAN: Vyf jaar of 90 000 km
  • WAARBORG: Drie jaar of 100 000 km

corolla corolla-2