Suzuki se pas vrygestelde Ertiga mik om ’n gaping in hul stal vir veeldoelvoertuie te vervul.

Die veelsydige Ertiga kan gemaklik van ’n sewesitplek-voertuig na ’n ligte afleweringsvoertuig omskep word. Daar is vyf modelle beskikbaar in die reeks.

Tien feite oor die Ertiga:

  1. Alle modelle kom standaard met ABS-remme, dubbele lugsakke voor, sitplekgordels vir alle passasiers, botsskermstawe en bykomende beskerming deur die strategiese plasing van hoëstreksterkte-staal, wat dit onderskei van soortgelyke voertuie in hierdie kategorie.
  2. Al die modelle se binne-afwerking is baie netjies, stylvol en het subtiele mat staalafwerking.
  3. Hierdie modelreeks geniet reeds groot steun in Indonesië en Indië met meer as 100 000 eenhede in albei lande verkoop.
  4. Die laer grondvryhoogte sorg vir verbeterde padhouvermoë, wat veral belangrik is wanneer passasiers vervoer word.
  5. Selfs met 7 passasiers aan boord is die Ertiga baie suinig met brandstofverbruik – ’n absolute bonus vir ’n voertuig met ’n 45 L-tenk.
  6. Daar is oorgenoeg binneruimte, wat ’n gerieflike rit waarborg. Met dié dat die middelste ry sitplekke verstelbaar is, is dit perfek vir langbeenpassasiers wat gereeld probleme met beenruimte ervaar.
  7. Moenie vir onnodige fieterjasies aan die Ertiga soek nie – nie binne of buite nie. Dis ’n eenvoudige voertuig wat jou, jou passasiers en jou vrag veilig en gerieflik gaan neem waar jy wil wees.
  8. Die passasiers in die derde ry het ook onbelemmerde toegang tot verstelbare lugreëling.
  9. Die slim ontwerp met ’n groter en langer agterdeur wat wyd oopswaai, tesame met die maklike opslag van ’n enkelsitplek (met ’n 60:40-sitplekverdeling) vir toegang tot die derde ry maak die in- en uitklim baie gerieflik.
  10. In die GL- en GLX-weergawes is daar is ’n versteekte kompartement van 22 L onder die bagasiebak se vloer.

Die Ertiga-reeks bestaan uit vyf modelle:

  • Suzuki Ertiga GA – R159 900
  • Suzuki Ertiga GL – R179 900
  • Suzuki Ertiga GL outo – R194 900
  • Suzuki Ergita GLX – R192 900
  • Suzuki Ertiga GLX outo – R207 900

Al vyf weergawes bied ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km, asook ’n diensplan van vier jaar of 60 000 km en ’n jaar se padbystanddiens. Die diensinterval is elke 15 000 km.

- Annelene Oberholzer

ertiga-2