Die Ciaz is ’n vierdeur-sedanmmotor wat onder meer die Hyundai Accent en Toyota Corolla Quest die stryd gaan aansê.[post-slider]

Die Ciaz bied ’n keuse van twee spesifikasievlakke – GL en GLX – maar, selfs die GL spog met ’n rits weelde- en geriefkenmerke.

Daaronder tel ’n ’n digitale ritrekenaar met meervoudige funksies, elektries beheerde ruite voor en agter, en elektries verstelbare buitespieëls met geïntegreerde rigtingaanwysers.

Ook op die lys is afstandbeheerde sentrale sluiting, ’n meerfunksie-stuurwiel, outomaties beheerde lugversorging met luguitlate vir passasiers agter, en ’n klankstelsel met ’n CD-speler, instemmer, geïntegreerde Bluetooth-koppeling en ses luidsprekers.

Die GLX-weergawes spog ook met leerbekleedsel, verchroomde deurhandsvatsels, chroomversiering onder die kantruite, en ’n verchroomde sierstrook op die bagasiebakdeksel. Die GL-model is met staalwiele van 15 duim en volgrootte wieldoppe toegerus, terwyl die GLX-weergawes met allooiwiele van 16 duim spog.

Die Ciaz word deur die jongste weergawe van Suzuki se 1,4-liter petrolenjin , wat 70 kW en 130 Nm ontwikkel. ’n Vyfgang-handratkas dra die enjinkrag aan die voorwiele oor, maar die GLX-weergawe kan ook met ’n outomatiese viergangratkas bestel word.

Brandstofverbruik vir die gekombineerde siklus wissel tussen 5,4 en 5,5 liter/100 km na gelang van model.

Die Ciaz spog met ’n volledige lys aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke. Daaronder tel ABS-sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding en noodrembystand, asook dubbele lugsakke voor, rukstopgordels voor en agter, ’n geïntegreerde alarm- en immobiliseerder, en kinderslotte agter.

Al die modelle kom ook met ’n waarborg van drie jaar/100 000 km in, asook ’n drie jaar/60 000 km-diensplan.

Pryse

  • 1,4 GL R179 900
  • 1,4 GLX R199 900
  • 1,4 GLX outo R214 900