Die Suzuki Vitara is terug!

Dit gaan net onder die SX4-oorkruisvoertuig val en hy gaan volgende maand by die Frankfort-motorskou amptelik bekendgestel word.

Suzuki verklap nie veel voor die bekendstelling nie, maar hulle sê wel kopers gaan die 2015 Vitara met talle opsies vir kleur en afwerking kan verpersoonlik.

Dit gaan glo met voorwielaandrywing beskikbaar wees, maar vierwielaangedrewe modelle met die ALLGRIP-stelsel gaan ook beskikbaar wees. Daar gaan ook petrol- en dieselenjin-weergawes wees.

Verder beweer Suzuki ook die motor het “lae koolstofdioksied-uitlating, asook uitstekende brandstofverbruik in die sektor”.

Die nuwe Suzuki Vitara gaan na verwagting middel volgende jaar in Suid-Afrika beskikbaar wees.