Sy mag nie huis toe verlang nie, het sy op dag een al besluit. Elke dag mag sy net vinnig, net vir ’n paar minute, aan haar lewensmaat en kinders dink, maar dan moet sy gou-gou weer die trane afvee en fokus op die doel voor oë: om Survivor South Africa: Santa Carolina te wen.

Maar die aand toe Ashley Hayden (42) uiteindelik weer uit Mosambiek in Johannesburg aanland, het die verlange haar behoorlik oorval. Toe mág sy maar...

En toe sy in hul straat in Parkview indraai, was dit duidelik: Haar gesin het net so baie na haar verlang.

Om elke boom, van die bopunt van die straat tot voor hul huis, was ’n groot, goudgeel lint gebind. “Tie a yellow ribbon round the ole oak tree”, kon sy sommer die woorde van die liedjie hoor, ’n gunsteling van haar en haar lewensmaat, Charlie Wilson. Toe weet sy: Dis Charlie se manier om te sê hy is baie, baie bly sy is terug.

Toe haar geleentheid voor die huis stilhou, staan hy en hul oudste, Cara (6), onder die boom met klein Guy (5) by hul voete, in droomland in sy slaapsak. Hulle wag al van vroeg af, en dit het vir hom net te lank geword.

Maar toe hy sy mamma se stem hoor, spring hy saam met Cara in haar arms en die twee klou haar vas asof hulle haar nooit weer sal laat gaan nie. En die vreugdetrane loop oor almal se wange.

Lees die volledige artikel in die 1 April-uitgawe van Huisgenoot.

Huisgenoot het nie 'n idee wie word wanneer uitgestem nie. Net omdat Ashley op die voorblad is, beteken nie sy is volgende om uitgestem te word nie. Ja, Gys is hierdie week uitgestem en ons het 'n artikel oor hom gehad - maar dit is eerlikwaar nie omdat ons geweet het hy gaan die trekpas kry nie. Byvoorbeeld, ons het al 'n paar weke terug 'nartikel oor GiGi geplaas en sy is nog steeds in Survivor. Tyd sal alleen leer oor wie wanneer uitgestem word. M-Net maak aan niemand die inligting bekend nie...