’n Spoedperk van 40?km/h in stedelike gebiede staar Suid-Afrikaners in die gesig.

Dit is een van die voorgestelde regulasies wat Maandag in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die publiek en ander belanghebbers het nou vier weke tyd om daarop kommentaar te lewer.

Volgens Netwerk24 sluit die voorgestelde wysigings aan die Padverkeerswet ook in dat motoriste wat hul rybewyse wil hernu, aan lukrake praktiese toetse deur toetsbeamptes onderwerp kan word.

Indien die motoris nie die beampte daarvan oortuig dat hy die regte padtekens ken, asook deeglike kennis het van die padreëls en verskillende seine nie, bestaan die moontlikheid dat hy sy rybewys kan verbeur.

Benewens ’n spoedbeperking van 40?km/h op stedelike paaie, wil die departement van vervoer ook ’n beperking van 80?km/h hê vir enige pad buite stedelike gebiede, behalwe op snelweë.

’n Beperking van 120?km/h sal steeds op snelweë geld, maar dit sal na 100?km/h verminder waar die snelweg deur ’n woongebied loop.

Ishmael Mnisi, woordvoerder van Dipuo Peters, minister van vervoer, het gesê drastiese stappe moet gedoen word om die slagting op paaie te verlig.

“Te veel ongelukke gebeur onnodig. Daar is te veel onbevoegde bestuurders op ons paaie,” het Mnisi gesê.

Hy het die voorneme om motoriste lukraak te toets wanneer hulle hul rybewyse hernu, toegeskryf aan die talle mense wat dit onwettig bekom.

Nóg beoogde regulasies sluit in om dit onwettig te verklaar om skoolkinders enigsins agter-in die bagasie-deel van ’n voertuig te vervoer, soos agterop ’n bakkie.

Swaarvoertuie van meer as 9?t mag ook nie tydens spitstye, tussen 06:00 en 09:00 en weer tussen 17:00 en

20:00, in beboude gebiede op ’n openbare pad ry nie.

Lees meer op Netwerk24