Dit het ’n duiselingwekkende mengsel van skerp voue en kurwes, ’n opgeknapte uurglassierrooster en ’n sonderlinge “swewende” dak.

Sedert die oorspronklike bekendstelling van dié baanbreker vir die skuif na die weeldenutsmotorsegment is meer as 1,2 miljoen verkope aangeteken. Boonop is die RX een van net twee weeldewaens in sy klas waarvan die jaarlikse Amerikaanse verkope gereeld die 100 000-kerf oorskry.

Lees ook: Land Rover Defender groet na 70 jaar!

Glenn Crompton, visepresident van bemarking, erken dié sukses bring sy eie uitdagings mee: “Lexus se ingenieurs en produkbeplanners moes lojale kopers gelukkig hou en die RX terselfdertyd aanlokliker maak – iets wat hulle op merkwaardige wyse reggekry het. Om die waarheid te sê, dit is ’n uitmuntende pakket dié. Dit kombineer die veelsydigheid en sielkundige sekuriteit van ’n sportnutsvoertuig met die rydinamika waarmee sedaneienaars vertroud is. Boonop het die motor al die hout- en leertoevoegings van ’n weeldefabrikaat. Dié model het sedert sy aankoms in Suid-Afrika in 2006 bestendig gevaar, en die nuweling sal gewis nuwe aanhangers lok.”

Die RX 450h het drievoudige ligdiode-kopligte met ingeboude wassers, asook sekwensiële ligdiode-rigtingwysers wat saam met die dagligryligte werk. Die RX 350 EX gebruik hoë-intensiteitkopligte met gewone rigtingwysers.

Die kant-ontwerp word gekenmerk deur ’n skerp, hoekige sy-aansig wat die lyne van die sierrooster van voor tot agter deurvoer. Die werklike uitstaankenmerk in die ontwerpprofiel is die swart C-pilare, wat die dak ’n swewende voorkoms gee.

Die RX-kajuit spreek van styl en weelde. Die beheerknop is die middelpunt van die werksone en is ergonomies geplaas om natuurlike en instinktiewe beheer moontlik te maak. Die vertoon- en werksone word geskei deur ’n vertikale element wat van die kap oor die instrumenthuisie tot in die middelkonsole strek. Dit gee die bestuurder ’n kenmerkende stuurkajuitgevoel.

Die nuwegenerasie-Lexus RX het meer passasier- en begasieruimte en die hoogte van die bekerhouers voor kan stel – ’n eerste wêreldwyd.

Nog ’n geriefskenmerk is die kabellose laaier in die voorpaneel. Dit werk met Qi-versoenbare slimfone ? die foon word doodeenvoudig op die kabellose herlaaiblad neergesit, die laaiwerking word geaktiveer en die stelsel doen die res.

Daarbenewens is die nuwe RX toegerus met ’n nuttige klimaat-concierge, wat die sitplekverhitting/verkoeling met die lugversorgingstelsel integreer.

Die Lexus RX het die jongste grootformaatvertoonskerm en Green Edge™-luidsprekers. Die nuwe klankeenheid het ’n volskerm-TFT vir die kieslys en satellietnavigasie op ’n 12.3”-skerm. Albei klankstelsels gebruik stemherkenning en Bluetooth®-verbinding, met ’n AUX-minisok en twee USB-sokke in die konsoleboks.

Die Lexus RX 350 het 12 luidsprekers, waaronder ’n laebasluidspreker van 20 cm en CST-tegnologie (samehangende klankoordrag) vir hoëgehalte- en realistiese klank regdeur die middel tot hoë klankspektrum.

Die vlagskip-hibriedweergawe het ’n Mark Levinson-sitkamerklankstelsel met 15 luidsprekers. Die vertoonskerm is ’n 12.3”-hoëdefinisie-TFT-vloeikristal-EMV-skerm met hoëgehalte-IPS. Die skerm het ligbeheerfilm met spesiale wering om weerkaatsing te verminder en weerkaatsende lig te beperk.

[post-slider]

Die Mark Levinson-klankstelsel maak gebruik van Clari-Fi (saamgeperste musiek-restoreertegnologie) om frekwensie-eienskappe, dinamiese reik, laetoonspanning en detail-terugspeel van saamgepersteklank-bronne soos MP3 te verhoog.

Die Green Edge™-tegnologie gebruik hoëfrekwensieluidsprekers om die klankuitset te verdubbel en het dieselfde energieverbruik as gewone luidsprekertegnologie.

Lexus se splinternuwe RX-weeldesportnutsvoertuig sal die eerste in die fabrikaat se produkreeks wees met ’n lasersny-binneruimafwerking wat die hoëgehalteafwerking van ’n weeldeklavier behels. Die Japannese weeldemotorvervaardiger het met sy jare lange vennoot Yamaha saamgespan om dié afwerking voort te bring.

Dit behels ’n dun lagie laaghout en aluminium met presisielasersnye deur die hout om die metaal onder bloot te lê. Die gevolg is ’n treffende lynontwerp wat die skerp kontras tussen die ryk eienskappe van die hout en die koel voorkoms van die metaal beklemtoon. ’n Beskermende, deursigtige harslaag dra by tot ’n gehaltevoorkoms en -gevoel.

Lees ook: Die Amarok van alle Amarokke is hier

Die gehalte van die eindproduk kan vergelyk word met die potloodstrepie wat in ’n handgemaakte pak klere ingeweef word of die ligweerkaatsende ontwerp wat op kristalglas graveer word. Die samewerking tussen Yamaha en Lexus is ’n voortsetting van ’n verbintenis oor 25 jaar oor talle projekte, waaronder eksklusiewe ornamentasie vir die LS en soortgelyke weeldemodelle.

Die nuwe Lexus RX het ’n magdom bestuurderhulpmiddels, waaronder blindekolmonitor met dwarsverkeerwaarskuwing (dit help wanneer die motor agteruit uit ’n parkeerruimte ry), voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), voertuigdinamikabeheer (net in die hibriedmodel), truratgidsmonitor, banddrukmonitor, sowel as ’n parkeersonar en afstandmonitor.

Die rembeheerstelsel is omvattend, met die elektroniese veiligheidseienskappe van sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD), opdraande-wegtrekhulp, kloubeheer en gevorderde voertuigstabiliteitsbeheer.

Die splinternuwe RX bied ’n wye reeks verf- en binneruimkleure om by sy treffende romp- en kajuitontwerp te pas, waaronder ’n keuse van sewe metaalvlokkiekleure. Dit word aangevul deur twee binneruimbeslagkleure vir die leer: swart en ivoor. Die kleurpalet sluit in kwartswit (White Quartz), platinumsilwer (Platinum Silver), soniese titaan (Sonic Titanium), grafietswart (Graphite Black), suurkersierooi (Morello Red), geskroeide oranje (Amber; Burnt Orange) en weelderige blou (Opulent Blue).

Twintigduim-wiele word in albei modelle gebruik, maar ’n interessante stukkie wielkuns word in die RX 350 EX aangetref in die vorm van die wêreld se heel eerste kleurinsette in soniese titaan.

* Die plaaslike RX-modelreeks is beskikbaar as die petrolaangedrewe V6-RX 350 EX of die petrol-elektriese-hibriedmodel, die RX 450h, in SE-gewaad. 

Bron: quickpic.co.za