[post-slider]Waar die vorige Figo op die ou Fiesta geskoei was, is die nuwe weergawe ’n model uit eie reg en van meet af ontwerp. Dit is onmiddellik as ’n nuwegenerasie-Ford herkenbaar en deel ontwerpseienskappe met die Fiesta en nuwe Focus.

Binne is daar beter gehalte afwerking en meer ruimte. Drie afwerkingsvlakke is vir die Ambiente, Trend en Titanium gebruik.

Al die modelle is goed toegerus met onder meer lugverkoeling, ’n klankstelsel met Bluetooth, lugsakke en ABS-remme. Die Trend- en Titanium-modelle het ook bykomende geriefskenmerke soos elektriese vensters en allooiwiele. Die Titanium het onder meer ses lugsakke en ’n verbeterde multimediastelsel met kontroles op die stuurwiel.

Die 1,5 L-petrolenjin ontwikkel 77 kW en 138 Nm, terwyl gemiddelde brandstofverbruik 5,6 L/100 km is.

Vir die turbodieselmodelle is daar ook ’n 1,5 L-enjin wat 74 kW en 215 Nm ontwikkel. Volgens Ford is dié kragbron se gemiddelde verbruik ’n lae 4,1 L/100 km. Al die modelle het ’n vyfspoed-handratkas, terwyl die topmodel ook met ’n outomatiese ratkas beskikbaar is.

Al die Figo’s kom met ’n vier jaar of 120 000 km-waarborg en ’n twee jaar of 40 000 km-versieningsplan.

Pryse (luikrug)

  • 1,5 Ambiente - R158 900
  • 1,5 Trend - R167 900
  • 1,5 Titanium - R181 900
  • 1,5 Titanium PowerShift-outo - R203 900
  • 1,5 TDCi Ambiente - R189 900
  • 1,5 TDCi Trend - R199 900

Pryse (sedan)

  • 1,5 Ambiente - R160 900
  • 1,5 Trend - R169 900
  • 1,5 Titanium PowerShift-outo - R205 900