Deur Chris McEvoy

Ek sê dit sonder skaamte: Ek hou van my flieks dom en luidrugtig, geskiet in 3D en vol 2D-karakters. Van watter nut is al daai langdradige “karakterisering” en “diepte” tog? Dit beroof net die kyker van koppe wat ontplof terwyl geboue neerstort op mense met ontploffende koppe.

Ongelukkig, omdat ek die gewoonte het om uit te gaan met kreatiewe, intelligente vroue, het ek ’n pynlike geskiedenis van saamgesleep word na kunsfliekteaters met ongemaklike sitplekke om flieks te kyk waarin mense ure lank betekenisvol na dinge staar en niemand in die gesig geskiet word nie. Dis nie vermaak nie. As ek “ware lewensdrama” wou gehad het, sou ek by die huis gebly het sodat ons kon stry oor hoekom ek so ’n **** is.

Maar wat nog erger is, is die sogenaamde chick-flieks wat enige heteroseksuele man moet verduur wat hoegenaamd sy kans wil behou om dalk nog sy stamlyn tot die volgende generasie uit te brei.

Dis onvermydelik. Nie net sal jy gedwing word om te kyk na dié flieks wat duidelik so ’n wrok teen jou koester nie; jy mag hulle nie eens terug haat nie.

Jou werk is om daar te sit, te lyk of jy aandag gee en jou lag te onderdruk wanneer jou maat begin huil terwyl die manlike hoofkarakter doodgaan van lupus of so iets belagliks.

So om jou voor te berei vir die pyn, is hier ’n voorskou van vyf van die ergste chick-flieks wat jy die een of ander tyd in julle verhouding gedwing sal word om te sien.  

Sex and the City (enigeen)

Jy moes erg drooggemaak het as sy jou dwing om dié versuikerde drek te kyk! Dit gaan oor die vier onuitstaanbaarste vroue in New York: die siniese Miranda, vertolk deur ’n fopdosser vol selfhaat; die naïewe optimis Charlotte, vertolk deur ’n bibliotekaresse; die trots sletterige Samantha, vertolk deur ’n winkelpop wat ses maande buite in die reën vergeet is; en die oppervlakkige, haatlike Carrie, gespeel deur ’n perd. Dis al wat jy hoef te weet. Probeer om nie jou polse te sny nie.

Legends of the Fall

Sy gaan vir jou sê sy hou van dié fliek omdat dit ’n uitbreide, epiese verhaal oor liefde en verlies is, maar sy jok. Dis ’n komawekkende verveelfees wat spog met akkers en akkers van Brad Pitt se ontblote bolyf. Om die fliek te kyk is soos om twee uur lank (ja, dit is so lank) te staar na die omslag van ’n soetsappige hygroman terwyl jy luister hoe ’n volledige simfonie-orkes uitvoering gee aan hysbakmusiek.

Titanic

Dié een is eintlik glad nie so sleg nie, danksy veral die gelukkige einde – dis nou as jy, soos ek, vir die ysberg skree. Jy kry te sien hoe honderde mense wreed tot hul einde kom en ’n reusagtige skip sink skouspelagtige. Die kersie op die koek: om te kyk hoe daai gladde rot Leonardo DiCaprio pateties wegsink na ’n welverdiende waterdood. O, ja, daar’s borste! Bonus! Is dit regtig ’n chick-fliek, wonder jy? Ek vrees so. Dis oor die drie uur lank en vir die meeste daarvan staar twee verliefdes walgwekkend diep in mekaar se oë.

Twilight (almal)

Dis ’n sadistiese reeksmarteling wat mors met alles wat jy van vampiere weet en liefhet. Dis sinloos om kapsie te maak oor glinsterende vampiere, die franchise is al so in ons kele afgedruk dit kan netsowel ’n godsdiens wees. Maar wees getroos: Wreed soos jou geliefde is wat jou hiermee pynig, sy is darem nie daardie siellose, dom dop Bella nie.

The Notebook

Wat, vra ek jou, is romantieser as ’n ou mens wat stadig aan Alzheimer sterf? “Niks!” sal die vrou aan jou sy antwoord en opgewonde die DVD vir jou aangee in blye afwagting op die twee uur lange sniksessie wat volg. Sy’s duidelik swaksinnig. Ek stel voor jy probeer so loskom: Vra, met ’n mengsel van verwarring en medelye: “The Notebook? Ons het dit dan eergister gekyk. Onthou jy nie?” Ek sê nie dit gaan werk nie, maar dis die moeite werd om te probeer.

Chris McEvoy is ’n vryskutrubriekskrywer en komediant van Kaapstad. Hy het in die suidelike voorstede grootgeword, maar ontsnap deur met sy kaal hande deur Tafelberg te grawe.