BO: Die ruimtestasie se Columbus-module, een van die belangrikste laboratoriums op die IRS. Klik of tik op die pyltjie en vee jou muis of vinger regs om die binnekant van die laboratorium te sien. Grafika: Anton Vermeulen van Huisgenoot se Infografika-span. Het jy geweet meer as 1 000 eksperimente word tans op die Internasionale Ruimtestasie (IRS) uitgevoer? Om die waarheid te sê is die IRS eintlik net een groot navorsingstasie met woonkwartiere vir die bemanning. Baie van die eksperimente word gedoen om gereed te maak vir die volgende groot stap in ruimteverkenning: die beplande mensekolonie op Mars in die 2030's. Hier is vyf opwindendes:

1. Groente uit ’n ander wêreld!

Die enigste manier waarop mense op Mars sal kan oorleef, sal wees deur hul eie plante te kweek - vir kos én om suurstof te voorsien. In Augustus verlede jaar het die IRS-span hul eerste suksesvolle happies gekweek: rooi slaai! Twee maande later het hulle weer so gemaak deur die eerste blom in die ruimte te kweek, ’n jakobregop. [caption id="attachment_126579" align="aligncenter" width="600"]Collage van foto's: ruimtevaarders hap slaaiblare, slaaiblare, blom HEEL BO: Ruimtevaarders proe die slaaiblare wat hulle op die IRS gekweek het. LINKS BO: Die rooi slaaiblare. REGS BO: Dié jakobregop is die eerste blom wat op die IRS gekweek is. Foto;s: Nasa[/caption]

2. Het jy iets nodig? Druk dit net!

Dit sal ’n enorme beslommernis - om nie van ’n duur een te praat nie - wees om heeltyd toerusting en kos Mars toe te vervoer. Een vlug Mars toe duur vyf tot sewe maande! Gelukkig is daar heelwat roumateriale op die Rooi Planeet en met 3D-drukkers kan die Mars-bewoners enigiets van voorwerpe wat vir hul blyplekke nodig is tot implemente vir die glashuise en selfs onderdele vir die drukkers druk. Daar is reeds ’n 3D-drukker op die IRS. Hier op Aarde, in Texas, eksperimenteer Nasa ook met die skep van kos met 3D-drukkers. Navorsers kan al 3D-pasta maak. [caption id="attachment_126582" align="aligncenter" width="600"]Die 3D-drukker op die IRS Die 3D-drukker op die IRS. Foto: Nasa[/caption]

3. Voet in die hoek

Ruimtevaarders bly gewoonlik ses maande of minder op die IRS, maar op Mars sal hulle vir minstens vyf jaar moet bly! Dit het enorme implikasies vir hul gesondheid.

In die ruimte is daar geen swaartekrag nie. Alles is dus gewigloos en dryf rond, mense inkluis. Dit veroorsaak heelparty gesondheidsrisiko's, onder meer verswakking van spiere en beendere. Heelwat eksperimente is dus daarop gerig om die uitwerking van gewigloosheid op die menslike liggaam te bestry. Een van dié eksperimente behels wat Force-skoene genoem word - spesiale sandale wat kan meet hoe goed gewigdraende oefeninge in die ruimte werk. Dis belangrik dat ruimtevaarders baie gewigdraende oefening doen (soos draf op ’n trapmeul) om hul spiere en beendere sterk te hou. Die uitslag van die Force-studie sal navorsers help besluit watter oefeningroetines en -toerusting die beste vir ruimtegesondheid is. [caption id="attachment_126584" align="aligncenter" width="600"]Force-sandale waarmee op trapmeule gedraf word Die Force-skoene is eintlik sandale. Foto: NASA[/caption]

4. Ruimtemuise

Het jy geweet ruimtevaarders se risiko om kanker te kry, is 3 persent hoër as dié van mense wat nooit die Aarde verlaat nie? Dis omdat kosmiese strale hul liggaam aantas. Die IRS en ruimtepakke bevat skilde wat teen kosmiese bestraling beskerm, maar dit werk nie teen alle strale nie. Heelwat navorsing moet dus gedoen word om toekomstige Mars-bewoners teen ruimtebestraling te beskerm. Een eksperiment bekyk op die oomblik die uitwerking van bestraling op voortplanting om onvrugbaarheid by ruimtevaarders te voorkom. Gedroogde muissperm word een, 12 en 24 maande op die IRS gehou, en dan op Aarde ingespan om muiseierselletjies te bevrug om babamuise in die lewe te bring.

5. Om langer jonger te bly . . .

Die bekende ruimtevaarder Scott Kelly het onlangs teruggekeer aarde toe ná byna ’n jaar op die IRS. Scott het ’n tweelingbroer, Mark, wat ook ’n ruimtevaarder is. Die Kelly-tweeling is voor, tydens en ná die sending deeglik getoets om vas te stel wat die uitwerking van so ’n lang verblyf in die ruimte op Scott se liggaam in vergelyking met dié van sy broer is. Volgens die relatiwiteitsteorie verouder mense wat in die ruimte voortsnel, stadiger as op Aarde en tegnies moes Scott dus stadiger as Mark verouder het. Wetenskaplikes is nog besig met die twee se toetsing, maar sê as daar ’n ouderdomsverskil ingetree het, het Mark dit teen hierdie tyd al ingehaal! [caption id="attachment_126587" align="alignnone" width="600"]Foto van Mark en Scott Kelly Mark (links) en Scott Kelly. Foto: Nasa[/caption]

Van die ruimte gepraat . . . 

  • Moenie Huisgenoot se splinternuwe publikasie, Reis na die Ruimte, misloop nie! Dit kos R45 en is oral te koop waar jy jou Huisgenoot sal kry. Dis vol interessante ruimtefeite en -stories soos hoe die lewe op Mars sal wees, watter vuurpyle en ruimtetuie die imposantste is, ruimtevaarders (ook vierpotiges) en, les bes, hoe 'n mens te werk moet gaan om 'n ruimtevaarder te word. (Kyk net waar word die publikasie oral gelees!)

Voorblad Huisgenoot Reis na die Ruitme

  • En dan is daar natuurlik Huisgenoot, YOU en Drum se imposante ruimte-tentoonstelling Gateway to Soace wat eersdaags in Sandton afskop ná 'n baie suksesvolle toer deur Europa. Koop jou kaartjies sommer nou!

Klik hier om kaartjies te koop