Judy Venter van Roodepoort sê toe sy ses jaar oud was, het sy in ’n inkleurkompetisie ’n pienk sambreel gewen.

Daarna het sy nooit weer iets losgeslaan nie. Min het sy geweet deur met die Tempo-toekennings vir haar geliefkoosde ster te stem sal haar ’n nuwe kar in die sak bring!

[caption id="attachment_142657" align="alignnone" width="600"]Judy glimlag van oor tot oor. Foto: Tumelo Leburu Judy glimlag van oor tot oor. Foto: Tumelo Leburu[/caption]

Judy het haar splinternuwe Suzuki Ciaz einde verlede maand ontvang en sê sy het intussen al oral rondgerits – van Rustenburg en na haar kinders toe tot Potchefstroom toe vir Aardklop. “En die kar is so lig op petrol – ek voel dit nie eens nie!”

In Desember vat sy en haar man, Anton, weer die langpad en sy sê sy kan nie wag nie. “Dit het alles ’n bietjie onwerklik gevoel – selfs die dag toe ek dit by die handelaar ontvang. Eers toe ek in hom sit, huis toe ry en die bure almal kom oe en aa, toe word dit werklik. Maar ek moet myself nou nog af en toe knyp om te glo dis waar!”

Judy het ’n Suzuki Ciaz 1.4 GLX MT-sedan ter waarde van R234 900 gewen.

Die gerieflike gesinsmotor het ’n reusekattebak van 495 L, is lig op petrol en het ’n vaartbelynde, ruim ontwerp. Boonop kan jy die deur oopsluit deur net ’n knoppie op die handvatsel te druk – solank jy die sleutel naby het.