Harriet the spy 1

Harriet the Spy deur Louise Fitzhugh

Ek het oor kos en boeke begin dink want op hierdie oomblik smag ek na ’n tamatietoebroodjie. Ek is so lus daarvoor dat ek dit omtrent kan proe en dis alles Harriet the Spy se skuld. Dis een van my gunsteling-kindertydboeke dié. Ek het dit oor en oor gelees toe ek op laerskool was en dit herhaaldelik by die bib uitgeneem omdat ek versot was op die 11 jaar oue Harriet M. Welsch. Harriet het op die ander kinders in die skool gespioeneer, hulle dopgehou en aantekeninge gemaak tot haar aantekeningboeke in die verkeerde hande beland het. Sy het ook net tamatie-en-mayonnaise-toebroodjies geëet. Danksy Harriet het ek dus op ouderdom 10 my eerste tamatietoebroodjie gemaak, en sy het geweet wat sy doen want dit was absoluut verruklik.

Ek herlees op die oomblik hierdie boek en met die eerste melding van daardie tamatietoebroodjie stap ek kombuis toe om een te gaan maak.

Koop die boek hier!

pictures

Die Dave Robicheaux-reeks deur James Lee Burke

Ek het probeer om die po’boy-toebroodjies te maak nadat daar vir die soveelste keer genoem is dat Dave Robicheaux, ’n adjunk-sheriff in New Iberia, Louisiana, en sy handlanger, die privaat speurder Cletus Purcel, hierdie toebroodjies gevul met gebraaide oesters en garnale bestel het. Hierdie wonderlike misdaadromans, wat in die laat 1980’s afgeskop het en steeds goed vaar, is donker en teken ’n prentjie van die lewe in New Orleans. Dave, ’n voormalige alkoholis, kan nie uit die moeilikheid bly nie en dit lyk of hy ook ’n ding vir kos het; ek bedoel die ou het ’n visvangkamp met ’n braaiput by sy huis, en hy is gek oor gumbo, diepgebraaide krewels en ander fantastiese New Orleans-geregte. ’n Mens is dus nie verbaas nie om te hoor dat James Lee Burke eenkeer vir die tydskrif Esquire gesê het: “Daar bestaan nie iets soos slegte kos in Louisiana nie. Dis op dieselfde vlak as heroïen.”

O, terloops, my po’boy-toebroodjies was ’n ramp: Dis nie so maklik om oesters te braai as wat dit klink nie.

 pictures1

 

Die Miss Marple- en Hercule Poirot-boeke deur Agatha Christie

Soos ’n mens van die baie fatsoenlike Britse karakter Miss Marple kan verwag, het sy van botterbroodjies en fyn toebroodjies gehou, veral in ’n ouwêreldse teekamer. Middagete sou geroosterde beesvleis of skaapvleis en gebakte aartappels wees, gevolg deur pruim- of appelskuimterte. Hierdie speurvrou is gek oor eet! Misdade is dikwels oor middagtee opgelos. Maar gif is ook deur kos en drank toegedien.

En dan was daar Agatha Christie se ander beroemde karakter, die Belgiese speurder Hercule Poirot, wat altyd sy dag met ’n koppie warmsjokolade begin het – en ek vermoed dis nie met laevet-melk gemaak nie.

 27717613_0_Img2

Die Harry Potter-reeks deur J.K. Rowling, die Famous Five-, Malory Towers- en St. Claire’s-reekse deur Enid Blyton, en die Maasdorp-reeks deur Stelle Blakemore

Een beker botterbier, dis al wat ek begeer – een beker sodat ek hierdie wonderlike drankie kan proe. Wag, ek wil ook pampoensap proe. En Bertie Bott se elkegeur-boontjies (net nie neusslymgeur nie). Die kinders in die Harry Potter-boeke eet die hele tyd, of dit nou die groot feeste by Hogwarts is, wonderlike happies op die trein op pad skool toe, of plaatkoekies wat oor die slaapsaal se kaggelvure gerooster word. Dis ’n goeie ding dat hierdie kinders so baie avonture gehad het, want op ’n manier moes hulle al daai kilojoules wegwerk.

Die kos in die Harry Potter-boeke laat my dink aan The Famous Five se tientalle pieknieks en die fantastiese middernagfeeste wat deel was van die lewe van die meisies by die koshuise Malory Towers en St. Clare in die Enid Blyton-boeke. Die Famous Five se Dick, Julian, Anne, George en hul hond, Timmy, het hierdie wonderlike pieknieks gehou. Ek voel partykeer steeds verward as ek bottels gemmerbier of limonade saam met konfyttertjies sien, en dan wonder ek of dit ’n herinnering uit mý kindertyd is of van een van die Enid Blyton-karakters. Geen ander skrywer het dit nog reggekry om hardgekookte eiers, blikke pynappelstukke en sardientjies so lekker te laat klink nie.

En so van sardientjies gepraat! Die rabbedoes van die befaamde Maasdorp-boeke was veels te vol streke om hulle aan kos te steur, maar hul spyskaart vir hul onvergeetlike middernagfeeste het kleintyd vir my baie romanties geklink. Deesdae trek my maag egter op ’n knop as ek net dink aan rosyntjiekoeke en plakke sjokolade wat in die middel van die nag saam met blikke sardientjies verorber word.

Koop die boek hier!

 A8

Die Kay Scarpetta-reeks deur Patricia Cornwell

Dr. Kay Scarpetta is ’n algehele fynproewer en is gek daaroor om dekadente Italiaanse geregte op te tower of by toprestaurante te eet om te ontspan ná dag van lyke opkerf en skelms vang. Ja, die forensiese ondersoeker in dié misdaadromans hanteer goed wat jou naar wil maak, maar jy verloor jou ook soms in haar kosbeskrywings. Goeie kos is vir Patricia Cornwell so belangrik dat sy al twee kookboeke geskryf het, Food to Die For: Secrets from Kay Scarpetta’s Kitchen en Scarpetta’s Winter Table, albei met resepte wat die karakter gemaak of by ’n restaurant geëet het – soos die Jack Daniel’s-sjokoladepekanpastei wat in The Body Farm is. Njam!

-Natalie Cavernelis