Hmmm . . . lamsribbetjie met koring-risotto en pampoenpiekel! Mynhardt Joubert en Tiaan Langenegger, Kokkedoor-wenners, deel  een van hul gunsteling-resepte in hul nuwe blog vir Huisgenoot.

[caption id="attachment_46982" align="aligncenter" width="447"]Mynhardt (links) en Tiaan Mynhardt (links) en Tiaan[/caption]

“DIT het alles met ’n droom begin!” roep Elzabé Zietsman een aand van haar piepklein kabaretverhoog in Wellington af terwyl sy my reguit in die oë kyk. En daarmee voer sy die gesprek wat ek en sy ’n ruk vroeër oor ’n voorvertoning-sigaret begin het, tot ’n hoogtepunt.

Haar woorde skiet soos ’n elektriese vonk deur my gedagtes en steek daar vas. En ek roep dit weer in herinnering toe ek die eerste oggend van die Kokkedoor-verfilming op die stoep van Weltevrede-plaas buite Prins Albert met ’n koppie koffie in die hand staan terwyl die Karoo stadig saam met my wakker word. Die plaas is pragtig en al ses geslagte lank in dieselfde familie, maar dit het ’n paar moderne ontwikkelinge vrygespring en dus is daar geen elektrisiteit of selfoonontvangs nie.

Ek sit dus daar met my gasstoof-gekookte koffie by die pragtigste paraffienlamp en tuur die oggendskadu's in. Dit voel of die tyd stil staan en ek wonder heimlik waarom die setlaars hierdie stukkie onherbergsame kloof kom uitkies het. Dan hoor ek die antwoord in die helder bergwater wat in die leivore by my voete verbykabbel: Hulle het ’n droom gehad! ’n Diep begeerte om onafhanklik en vry te wees en deur die stof en die klippe te trek om hul koppe te kom neerlê in dié stukkie kloof. Terwyl ek so mymer, trek die son die landskapsgordyn oop en dit lyk soos die paradys: granaatbome, perskes, vye, kwepers en turksvye so ver die oog kan sien. Dit moet wees waar die naam Weltevrede vandaan kom.

En so kom lê twee dinge daardie oggend op die stoep in my hart: vrede, en ’n droom. En in die loop van die kompetisie word hulle my interne spanmaats. Hulle woel, werskaf, kook en veg ’n pad deur my binneste oop sodat ek by my eie stukkie grond en kloof kan uitkom. As die een moeg raak, is die ander daar om te help; as die taak te groot lyk, gaan staan ons op ’n hoër plek, kyk in die pad af en sien die einde; as ons dors raak, is daar vrede om te drink en as ons honger is, gee ’n stukkie van die droom vir ons krag.

En so breek die laaste dag van Kokkedoor aan en die twee spanne ruk teen mekaar op, toegerus en oorgehaal vir die finale geveg. Ons spook en sweet ure lank om die feesmaal vir meer as 100 gaste gekook te kry! Die kos gaan tafel toe, die geregte word uitgepak vir die fees in die straat, die mense smul en juig – en toe roep die lang tafel in die skuur ons terug. Dis tyd dat die wenspan aangekondig word. Soos veroordeeldes sit ons daar tot die woorde van Mariëtta Kruger se lippe afrol en die vere soos God se seën oor ons neerdaal. Vrede laat alles om my ’n oomblik stil word en ek besef: Dit het alles begin met ’n droom . . .

Moet nooit ophou droom nie.

- Mynhardt Joubert

* Sedert hulle Kokkedoor gewen het, het Mynhardt en Tiaan verskyn-en-verdwyn-restaurante (pop-up restaurants) die lig laat sien. Die konsep is onlangs by die Vryfees in Bloemfontein bekend gestel, en dié naweek (26-28 Julie) kook hulle by die wynplaas Vondeling naby die Paarl (http://tinyurl.com/kokkedoor-vondeling ). Gaan smul gerus aan hul gewilde koring-risotto! Rol ondertoe om hul volledige spyskaart te sien.

Koring-en-pampoen-risotto met lamsribbetjie en botterskorsiepiekel

Dié resep het ons met groot sukses by die eerste Kokkedoor-Verskyn-en-Verdwyn-restaurant by die Vryfees in Bloemfontein voorgesit. Dis ’n dromerige gereg van sagte koring-risotto met geroosterde pampoen en hande vol parmesaankaas en sag geroosterde lamsribbetjie met pampoenpiekel. Dit was heerlik en definitief ons almal se gunsteling. Geniet dit!

Genoeg vir 6 mense

Resepkos

BOTTERSKORSIE-PIEKEL

250 ml (1 k) bruinasyn

125 ml (½ k) bruinsuiker

5 ml (1 t) mosterdsade

250 ml (1 k) botterskorsie, in klein blokkies gesny en geblansjeer

1 sprietui, gekap

Verhit die asyn, suiker en mosterdsade tot kookpunt. Giet oor die pampoen en laat minstens 1 uur maar verkieslik oornag staan. Voeg die sprietuie by.

LAMSRIBBETJIE

lamsrib met 6 ribbetjies

5 ml (1 t) sout

5 ml (1 t) peper

5 ml (1 t) fyn komyn

Voorverhit die oond tot 200 ºC. Vryf die ribbetjie in met die sout, peper en komyn en plaas dit in ’n oondbak. Bak 30 minute en verlaag die oondhitte tot 160 ºC. Bak nog sowat een en ’n half uur tot sag. Verwyder uit die oond en laat sowat 10 minute rus. Sny die ribbetjies los.

KORING-EN-PAMPOEN-RISOTTO

750 ml (3 k) gaar koring

500 ml (2 k) warm lamsvleisaftreksel

250 ml (1 k) pampoen, in die oond tot sag gerooster en fyn gemaak

125 ml (½ k) parmesaankaas

30 ml (2 e) botter

Verhit die koring in ’n plat pot en voeg die warm aftreksel by. Roer die pampoen by en verhit tot deurwarm. Voeg die kaas en botter by en roer goed deur.

OM VOOR TE SIT

Skep die risotto op die bord. Plaas die ribbetjie bo-op en sprinkel die pampoenpiekel bo-oor.

- Tiaan Langenegger

Hieronder is die spyskaart vir dié naweek se Verskyn-en-Verdwyn-restaurant op die wynplaas Vondeling.

Spyskaart