Kry jou kind speel-speel gereed vir gr. R of gr. 1 met Cleverkiddo se heel eerste app, Seisoene.

Seisoene is ’n 4-in-1 app vir iPhone en iPad. Die aktiwiteite binne dié app is ontwerp om voorskoolse kinders op ’n pret manier te leer van getalle, vorms en legkaart bou. Prettige belonings en oulike grafika motiveer die kind om aktiwiteite te voltooi terwyl ’n verteller die jonger kind deur die app begelei.

Elke seisoen bevat vier aktiwiteite en verskil na gelang van die seisoen waarin dit voorkom.

Een van dié aktiwiteite is ’n 20-stuk-legkaart met ’n toneel uit elke seisoen. Drie legkaartstukkies verskyn lukraak aan die regterkant van die skerm terwyl ’n buitelyn van die prentjie aan die linkerkant van die skerm vertoon word. Die kind moet die legkaartstukkies trek vanaf die regterkant na hulle regte plek. Sodra die legkaart voltooi is, gebeur daar ’n animasie wat by elke seisoen pas.

“Aangesien kinders geen vrees vir tegnologie het nie, leer hulle deur dinge te toets en te ontdek,” vertel Carien van Zyl van Cleverkids.

Seisoene lê sekere konsepte by kinders vas deur herhaling. Dit bevorder ook fyn motoriese ontwikkeling deur voorwerpe wat na die korrekte plek geskuif moet word,” verduidelik sy.

Gr. R-onnies kan maklik dié app in die klas gebruik sonder om deurentyd aanwysings te gee. “Een van die oogmerke van die toepassing is om kinders te leer van vorms en getalle sonder dat hulle noodwendig al die kennis het.”

Die temas vir die apps wat deur Cleverkiddo ontwerp word, word gekies uit die temas in die gr. R-leerplan. Die volgende een waaraan hulle werk, is Diere.

Tien gelukkige lesers kan elk ’n eksemplaar van Seisoene wen! Stuur ’n e-pos met jou naam en kontakbesonderhede na seisoene@cumlaudemedia.com met “Kopskuif-onnies Seisoene-weggee” in die onderwerpreël. Noem ook of jy die Afrikaanse of Engelse weergawe van Seisoene wil wen.