’n Gevorderde outomatiese sesspoed-ratkas word vir die eerste keer aangebied in die Ranger 2.2 Duratorq TDCi.

Die suksesvolle Ford Ranger, wat oor die afgelope 13 maande in sewe gevalle die topverkoper-ligtehandelsvoertuig in Suid-Afrika was, sal in Julie ’n toonaangewende modeluitbreiding bykry.

Aan die spits daarvan sal vir die eerste keer die keuse van Ford se gesofistikeerde sesspoed- outomatiese ratkas in die 2.2-liter Duratorq TDCi-modelle wees.

“Die sukses van die outomatieseratkas-opsie in die Ford Ranger is weergaloos, met amper 70 persent van die kopers wat die outomatiese weergawe bo die handrat in die kragtige 3.2-liter-modelle verkies,” sê Tracey Delate, hoofbemarkingsbestuurder van Ford in suider-Afrika.

“Ons is verheug om aan te kondig die 2.2-liter-outo sal van Julie beskikbaar wees,” sê Tracey. “Dit sal die Ranger selfs aanlokliker maak, aangesien dit een van die eerste bakkies in die LAV-afdeling is wat ’n outomatiese ratkas in die middelklas-derivate met kleiner vermoë bied.”

Altesaam nege 2.2 TDCi-outo-variante sal aangebied word en dit sal die hersiene Ranger-reeks tot altesaam 36 modelle vergroot. Dit sal in al drie bakwerkstyle beskikbaar wees, insluitend die enkelkajuit, die veelsydige superkajuit en die ruim dubbelkajuit wat sedert 2014 sy afdeling oorheers.

Ter aanvulling sal klante kan kies tussen al drie afwerkings- en spesifikasievlakke in die geval van die Ranger-dubbelkajuit 2.2-outo, bestaande uit die intreevlak-XL, die middelklas-XLS en die topmodel-XLT, wat ’n weergalose kombinasie van luuksheid en gemak bied. Die enkelkajuit en superkajuit kan bestel word in XL- en XLS-weergawes vir die 2.2-outo.

Bron: Quickpic