Wag 'n oomblik voor jy daardie koekpanne wegpak!

koekedoor

Jy gaan dit dalk eersdaags weer nodig kry tydens jou oudisie vir die tweede seisoen van kykNET se supergewilde Koekedoor-bakkompetisie.

Dit is reg, die uitdunrondtes vir die tweede seisoen begin eersdaags en as jy jou bakvernuf in die kombuis aan die ganse Suid-Afrika wil wys, is dit nou jou kans.

“Die eerste seisoen van Koekedoor het nie net helde van Afrikaanse bakkers gemaak nie, maar ook vir hulle uitmuntende nuwe loopbaan- en entrepreneursgeleenthede geskep,” sê Marguerite Albrecht, opdraggewende vervaardiger. “Die formaat van die program bied ook goeie vermaak; die drama wat om die stoof afspeel en die deelnemers se hantering van gebak-dilemmas is uiters boeiend.”

Volgens mede-beoordelaar Mari-Louis Guy maak die program juis die misterieuse wêreld van gebak toeganklik. “Mense is onnodig bang gepraat oor bak. Koekedoor wys die prettige kant van bak, asook hoe uitdagend, skeppend en opbouend dit kan wees. Dit wys ook dat die mees gesoute bakkers flaters maak.”

Die nuwe seisoen van Koekedoor gaan weereens in die historiese Twee Jonge Gezellen-landgoed in Tulbagh in die Wes-Kaap verfilm word. Hier gaan tien amateur-bakkers mekaar die bakstryd aansê.

Die nuwe seisoen gaan aanstaande jaar op die kassie wees.

Sou jy graag met jou baktalent wil spog, is hierdie die roete om te volg:

  • Bak-entoesiaste het tot 7 Augustus 2015 kans om vir die geleentheid in te skryf.
  • Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger ouer as 18 jaar kan inskryf.
  • Afrikaans moet jou eerste taal wees.
  • Slegs amateurbakkers wat hul bakvaardighede sonder professionele kwalikasies of ondervinding in ’n professionele patisserie of sjefskombuis opgedoen het, kan inskryf.

Hoe dinge van daar af verloop:

  • Jy handig jou aansoekvorm in voor of op 7 Augustus 2015 vir die eerste rondte van keuring. Aansoekvorms is op kykNET se webwerf beskikbaar.
  • Aansoekers wat deurdring na die volgende rondte word na ’n oudisie genooi wat van 24 tot 27 Augustus 2015 in Johannesburg, Bloemfontein en Kaapstad gehou word. Tydens hierdie oudisie kry aansoekers die geleentheid om hul koekbakvernuf aan ’n proepaneel te bewys, waarna ’n praktiese tegniek-rondte en ’n filmtoets volg.

Gaan loer gerus op kykNET se webwerf vir meer inligting.