Hope glans en stemme wat skrik vir niks, ‘n eina-my-maag-snaakse Emo Adams en ‘n paar maak-my-knieë-lam mooi manne – dis mos waaroor ons gesogte jaarlikse konsert in die Kaap, Skouspel Plus, gaan of hoe?

Vanjaar was die Grand Arena by Grand West Casino in Goodwood tjok en blok vol vurige aanhangers. Almal het kom kyk hoe Kurt Darren, Juanita du Plessis en Snotkop saam met ‘n paar ander van ons land se top-kunstenaars die dak kom lig.

Hierdie keer was die Suid-Afrikaanse Jeugkoor ook daar en die Kaapse Filharmoniese Orkes het weer onder leiding van maestro Graham Scott die plek behoorlik laat lewe kry.

Mense, mense, mense... Ons konsert het net weer bewys wat almal eintlik al lankal weet: Ons land spog met ‘n hele spul talentvolle mense.

Hoe Chris Chameleon sulke hoë note kan bereik, en dit vir ‘n ou, weet ek nou nog nie. Probeer maar gerus daai ooo- aaaa-ooo-geluide van sy baie gepaste liedjie OO-AA by die huis voor die spieël naboots – en jy gaan lááááánk sukkel.

Dozi en Nianell se weergawe van Making Whoopee was so sexy, om nie eens te praat van daardie welgeskape sonbruin been van haar wat so nou en dan onder die wit aandrok uitgeloer het nie.

En natuurlik het die meisies  - en hope ouer vroue – omtrent gegil die oomblik toe die nimlike Bobby van Jaarsveld sy voete op die verhoog sit om Spieëltjie Spieëltjie te sing.

"Ek weet darem nie," het hy verleë gegrinnik toe ons hom pols oor model word. Hy was op daardie oomblik gans te besig om sy blink, grys hemp reg te trek – dié was glo ‘n bietjie te blink en te styf na sy smaak. Asof klere te styf aan sulke mooi arms kan sit!

En toe Wynand Strydom by Theuns Jordaan en Bobby aansluit om Sprokie vir ‘n Stadskind se sing het ‘n hele paar vroue in die gehoor begin gil.

"Ek het soos Bon Jovi gevoel jong," het Wynand daarna gespot.

Corlea Botha en Rudi Claase se As ek Sing het ‘n hele paar mense na die snesies laat gryp. En kán hierdie twee jongmense sing! Boonop het Corlea met die derde en laaste konsert van die naweek met bronchitis gesukkel, maar g’n mens sou dit agtergekom het nie. Nie met daardie hoë note wat sy bereik het nie, foutloos en sonder enige sweempie van ‘n padda in die keel.

Toe Mathys Roets in sy rolstoel op die verhoog verskyn om Laurika Rauch se aangrypende Stille Waters saam met haar te sing is hy staande toegejuig. Dit was een van daardie oomblikke wat die trane vlak gesit het.

Soos gewoonlik het Eden se manne Johan, Jay en Paulo  die knieë lamgemaak. Raak dié manne dan nooit ouer nie? Al drie was met hul gesinne daar en ons was gelukkig genoeg om Paulo se oulike kleinman, Kai, in die kleedkamer te sien.

"Hy maak sulke babbelgeluide as hy musiek hoor," sê sy ma Marlene oor dié sewe maande oue knapie wat uitgeknip sy pa is.

Die stomme Julius Malema se ore het seker heelaand getieng – die seremoniemeester Margit Meyer-Rödenbeck het die mense omtrent laat kraai met haar Julius-grappies.

Daar ontdek ek toe met ‘n skok Nianell kan opera sing. Haar weergawe van die Spaanse operasanger Montserrat Caballe en oorlede Freddy Mercury se Barcelona saam met Kurt, Romanz en Brandon October was ‘n hoogtepunt.

Mango Groove se lewenslustige Claire Johnston het vir nog een gesorg. Dié het die hele Skouspel Plus in styl afgesluit met ‘n keurspel van ou treffers soos Hellfire en natuurlik Special Star wat almal op hul voete gehad het.

Dit was inderdaad skouspelagtig en dit alles in een mengelmoeskardoes!

Maak seker jy koop die volgende uitgawe van Huisgenoot waarin al die foto's van die naweek se konserte gaan verskyn!