DEUR BUKS DE KOKER    

EK KYK vir myself in die spieël. Die gesig is iemand anders s’n. Dis met roet besmeer en my hare voorlangs is omtrent weggeskroei.

Wit kringe sit om my oë waar die bril my beskerm het. My vel rem rou en seer oor my voorkop en wange. My lippe is ook stram. Maar ek kry dit tog reg om in die spieël vir myself te lag.

Uitbundig. My tande blinkwit teen my roetgesig. Ek wil my gesig afspons, maar my selfoon lui. Ek weet sommer dis Beatrice. Haar naam flits inderdaad op die skerm van my foon.

‘‘Ek wil net weer dankie sê, Danie. En ek wil graag met jou praat.’’ Haar stem is hees, soos altyd as sy emosioneel is.

‘‘Praat? Wat bedoel jy praat?’’

‘‘Ja, praat. Oor ons twee. Oor jou en my. Ek en Alfredo het uitgemaak.

Vandag daar bo in die klofie.’’

‘‘En?’’

‘‘En . . . Ja, hy’s nou geskiedenis. Ek wil hê ons twee, ek en jy, moet weer probeer. Ek het vandag weer eens besef watse man jy is. En ek het onthou ons twee se ding was so goed, vir so lank. Ek kan nie glo dat ek so simpel kon wees nie.’’

‘‘Simpel?’’

‘‘Ja, simpel. Hoe kon ek jou ooit vir daai ander spul verruil het?’’

Met die foon teen my oorstap ek uit op die oop balkon. Onder my voete is ’n mat van roet en die reuk van ’n dooie vuur lê skerp in my neus. Ek kyk uit oor die donker hang van die berg.

Noudat die vlamme geblus is, merk ek vir die eerste keer dis volmaan. Groot en silwer hang dit oor Valsbaai wat nou rustig lê en dein.

Die maan skyn silwergrys oor die rotswande en kranse. Spookagtig. Die hang is houtskool, maar plek-plek smeul dit vir oulaas in die pikswart klowe, stuiptrekkings van ’n monsteragtige inferno. Dan onthou ek van die foon in my hand.

‘‘Dit sal tydmors wees om te praat, Beatrice.’’

‘‘Wat bedoel jy met tydmors, Danie?’’

‘‘Ek bedoel die vuur is nou geblus.’’

Ek druk die selfoon dood en stap oor na my musieksentrum. Ek draai die volume oop, leun terug en maak my oë toe. Die kragtige klanke van die Inferno van Dante vibreer weer deur my hele lyf.

Maar hierdie keer reinig die sonata my en ek besef ek is nou deur al die sirkels van die hel, anderkant uit. Ek voel steeds uitbundig, al weet ek dat boetedoening op my wag. Ja, ek sal nooit met dié skuldgevoel kan saamleef nie en môre gaan ek myself aan die polisie oorgee.

Brandstigting is ’n ernstige oortreding.