DEUR BUKS DE KOKER    

Op ’n dag bespied ek weer die berge agter Vergelegen met my verkyker. Die Helderberg troon blink en skoon in die oggendlig en die res van die berge lê knus onder ’n dik wit wolkelaag wat deur ’n sterk suidooster aangeblaas word.

Ek lig my verkyker en soek oor die laer hang van die berg, in die omgewing van die klofie. Ná ’’n paar minute kry ek my teikens in die oog. Dis Beatrice en Alfredo.

Die laaste maand of twee besoek hulle die klofie amper elke Sondag en vandag gaan weer geen uitsondering wees nie.

DIE verkyker trek Beatrice se beeld tot vlak voor my oë. Haar hare is soos gewoonlik vir die stap in die twee bokstertjies gebind. Dan verskyn Alfredo se gesig in die ronding van my verkyker en hy en Beatrice soen mekaar.

Passievol, soos die Italianers dit seker maar doen, dink ek wrang. Beatrice rus met haar kop op haar minnaar se skouer en sê iets in sy oor. Dis seker dieselfde goed wat sy in my oor gesê het, lank gelede – en seker in die ore van al haar ander minnaars.

Ek voel skielik soos ’n voyeur en skuldig laat ek die verkyker sak. Ek stap bergop tot skuins onder die klofie en vertoef ’’n wyle daar. Vanoggend brand verlange en verwerping soos ’’n spierwit vlam in my binneste.

Dan draai ek terug en gaan huis toe. Ek wil nie meer so naby die klofie wees nie.

Ek moes aan die slaap geraak het, want ’n uur later maak sirenes my wakker. Dis die polisie of die brandweer. Ek staan op en stap op my balkon uit. Die reuk van ’n bosbrand sny in my neus op, onmiskenbaar.

Ek kyk op teen die berg en sien die kolom rook teen die hang, dik en skeef in die sterk suidoostewind.

Ek haas my na die polisiekantoor en meld aan as vrywillige brandslaner. Ek hoor die stasiebevelvoerder met iemand praat.

‘‘Dis vir seker brandstigting en ons is warm op die verdagte se spoor.’’

Lees môre verder oor die verteller en Beatrice se liefde...