Van haar kant af het dit inderdaad oornag uitgewoed. Haar vrae oor die volgende paar maande is windvlae van voor.

‘‘Is jy tevrede met dit wat jy in jou lewe bereik het, Danie?’’

‘‘Jy kan nog soveel dinge doen, Danie, maar jy sit aldagvoor die rekenaar en skryf. Is dit reg so vir jou?’’

‘‘Sal jy omgee as ek liewer my eie blyplek kry, Danie?’’

‘‘Sal jy omgee as ons mekaar nie meer elke dag sien nie, Danie?’’

‘‘Ek wil graag ander mense,ander mans, ook leer ken. Is dit reg met jou, Danie?’’

‘‘Ek wil hê ons moet mekaar vir ’n maand of drie glad nie sien nie. Ek het kans nodig om te dink. Is dit reg so met jou, Danie?’’

‘‘Ek het vir Gerard ontmoet en ek hou baie van hom. Ek wil nou tyd saam met hom deurbring. Het jy begrip daarvoor, Danie?’’

‘‘Gerhard verstaan my nie. Kan ek vanaand oorkom na jou toe, Danie?’’

‘‘Ek wil terug Gauteng toe. Sal jy saamkom, Danie?’’

‘‘Ek sien vanaand vir Werner. Hy is anders en ek dink dis die man vir my. Kan jy dit so aanvaar, Danie?’’

‘‘Werner is aaklig. Ek het vanaand ’n skouer nodig om op te huil. Kan ek oorkom, ’seblief, Danie?’’

‘‘Ek gaan aanbly hier in die Kaap. Is jy bly daaroor, Danie?’’

‘‘Alfredo is net wat ek nodig het – ’n warmbloedige Italianer. Ek wil hom graag aan jou voorstel. Kan ons môreaand oorkom, Danie?’’

‘‘Goeie ou Danie, wat sal ek sonder jou doen?’’

So gaan die warrelwindbrande van my verbintenis met Beatrice voort: ’n brand wat koud lê en smoor, en dan weer opvlam en my in ’n geel warmte omvou.

Ek sit in sak en as, en die volgende oomblik jubel-dans ek om ’’n vuur wat alles verteer, veral my weerstand teen dié rustelose vrou.

Snags slaap ek niks en luister na die Inferno-beweging van Franz Liszt se Dante-simfonie. Ek dink aan my verterende liefde vir Beatrice en soos Dante beweeg ek saam met haar deur al die sirkels van hel. Ek lag wrang – die Inferno van Danie.

Lees môre verder oor die verteller en Beatrice se liefde...