DEUR BUKS DE KOKER      

Ons begin stap en ek kyk na die silhoeët in kakie voor my. Alles tussen die pampoenblaarhoedjie en die sole van die stewels is ’n fees vir die oog. Heupe wat slanker as dit is, kry jy nie, sê ek vir myself, en ook nie bene met beter lyne nie.

Ek is steeds verstom oor my voortvarendheid en ek wil vir haar sê dit voel of ons mekaar al lank ken, maar ek weet nie hoe om dit te sê sonder dat dit na ’n cliché gaan klink nie.

‘‘Dit voel of ons mekaar al lank ken,’’ sê Beatrice oor haar skouer en toe is ek finaal op my gemak. Ons babbel so dat ons omtrent nie kyk wat om ons aangaan nie. Later word die paadjie breër en langs mekaar leun ons met asems wat hyg teen die steilte in. En steeds babbel ons.

‘‘Is jy ’n gebore Kapenaar, Danie?’’

“Nee, ek kom uit die Noorde. Uit Gauteng.’’

‘‘Haai. Ek ook. En ek wonder altyd wat ek nou eintlik is – ’’n Gautenger of ’n Transvaler? Ek bedoel, toe ek gebore is, was ek ’n Vaalpens, of ’n Valie. Gauteng was nog nie daar nie.

‘‘Wel, miskien is jy dieselfde as ek – ’n Valie van Gauteng wat nou in die Kaap woon.’’

’n Week later trek sy by my in. Ons verhouding en beheptheid met mekaar laat my aan ’n veldbrand dink, soos dié wat ek as kind in die destydse Transvaal beleef het: wegholbrande wat deur die Augustuswinde aangedryf is en deur niks en niemand gestuit kon word nie.

Ons verlang saam na die Hoëveld se grasvelde en na die bosse in die Laeveld, maar ons geniet die Kaap ten volle. Amper elke naweek is ons in die berge en ek leer weer die Helderbergkom ken, hierdie keer deur Beatrice se oë.

Ons bekyk die fynbos-paradys met oë wat net nie genoeg kan kry nie: van reuse- proteas tot die fynste klein erikas. En die suikerbekkies: veelkleurige klein helikopters wat voorrade nektar laai in volle statiese vlug.

Ons ontdek die klofie, ’n skeur in die rotse halfpad op teen die hang. Dis ’n meter of drie bokant die soom van die bome. Die klofie word ons twee se skuilplek en menige dag lê ons en tuur in stilte oor die onmeetlikheid van die suidelike Atlantiese Oseaan.

Beatrice druk met haar kop teen my wang en ek wonder wat in haar gedagtes aangaan. Sy praat onverwags.

‘‘Die Kaap is vir my wonderlik, Danie, maar tog mis ek die ritme en pols van Gauteng.’’

Later sou ek weet dat daardie enkele sin die keerpunt in ons verhouding was. Die wegholveldbrand van ons verhouding het skielik die wind van voor gekry.

Lees môre verder oor die verteller en Beatrice se liefde...