DEUR BUKS DE KOKER      

Sy kyk na my rugsak, lag wit met ’n wye mond en praat met ’n stem wat my vinniger laat asemhaal.

‘‘Haai, jy lyk of jy die wêreld hier ken?”

‘‘Ja, jy’s reg . . . Ek ken die wêreld . . . baie goed.’’ En skielik weet ek nie wat om verder te sê nie. Die Don Juan van ’n paar minute gelede is stom. Ek staar die meisie woordeloos aan, maar sy bly op haar gemak.

‘‘Wonderlik. Dalk kan jy my neus in die regte rigting draai.’’

‘‘Jou neus . . . ja, ek bedoel . . .ek kan seker . . . eintlik sal ek graag wil. En sommer vir jou ook reg draai . . . saam met jou neus.’’

Haar lag klink soos klokkies en uit die bloute dink ek aan die roomyskarretjie jare gelede op my tuisdorp. As kind was die klokkie se gelui die mooiste klank wat daar was, vol belofte en wonderlike vooruitsigte, veral as jy ’n natgeswete sikspens in die hand gehad het.

‘‘Nou toe. Waar begin ek en my neus? Blou, rooi, groen, geel of wit?’’ Sy druk met ’n ronde nael teen die gekleurde voetspore.

Sy kyk na my met ’n frons tussen haar geelbruin oë. Haar swart hare is in boksterte en dit laat haar oë nog stouter lyk. Ek voel meteens op my gemak en die Don Juan van vroeër is terug.

‘‘Hierdie roetes is almal lank, uitputtend en uiters gevaarlik. Daar is selfs luiperds in die kranse.’’

Ek beduie met my hand op teen die Helderberg en met ’’n draai oor Vergelegen na die Hottentots- Hollandberge verder terug.

‘‘Jy sal ’n ervare gids nodig hê om jou te vergesel, en natuurlik om jou te beskerm.’’

Ek kan my tong afbyt oor my eie voorbarigheid, maar die klokkies lui weer in my ore.

‘‘Luiperds, sê jy? Weet jy dalk waar ek so ’n dapper gids in die hande kan kry? Ek bedoel, op kort kennisgewing?”

Haar oë blink, en ek besef hierdie meisie weet hoe om met mans te werk.

‘‘Wel, sulke gidse is skaars en amper onbekostigbaar. En daar is maar net een of twee van ons.’’

Ek hoor weer die klokkies.

‘‘Dan het ek seker nie ’n keuse nie. Maak maar jou prys. Terloops, ek is Beatrice.’’

Lees môre verder oor die verteller en Beatrice se liefde...