DEUR BUKS DE KOKER      

DIS ’n pragtige oggend in die natuurreservaat; een van daardie dae wat mense laat sê so ’n dag vergoed vir die ander 30 triestige dae van die maand in die Kaap.

Ek kyk op teen die Helderberg. Die hang lyk aanloklik en ek weet oor ’n uur of twee is ek op die piek. Van daar sal ek dan afkyk op die berge, see en vlaktes van die Skiereiland. As die weer hou, en die sigbaarheid bly goed, sal ek ver kan sien, ver verby die punt waar Afrika ’n krom toon in die Atlantiese Oseaan druk.

Ek wip my rugsak in posisie en kry koers van die parkeerterrein na die paadjie wat teen die berg op lei. Ek sien daarna uit om tussen die suikerbosse te kom. Die vlinders en suikerbekkies behoort bedrywig te wees, dink ek en voel outomaties na die kamera om my nek.

Toe sien ek haar. Sy staan onder die afdakkie en kyk na die kennisgewings en inligting oor die fauna en flora van die reservaat. Sy dra stapklere en dis duidelik dat sy ook planne het om die reservaat te verken. In een oogopslag sien ek die vrou is mooi, ten spyte van die dik stewels, knielengte-kakiebroek en pampoenblaarhoedjie op die kop.

Ek stap verby en gaan staan, onnodig, by die klip met veelkleurige voetspore vir die verskillende staproetes op. Die vrou is dalk vreemd en sal dalk ook op die klip kom kyk na die roetes.

Dan kan ek van hulp wees. Ek is verbaas oor my geslepenheid. Gewoonlik is ek skamerig, veral vir vreemde vroue. En hier staan ek die vrou en inwag soos ’n wafferse ervare Don Juan.

Ja, dink ek, as sy by die klip kom staan, sal ek haar vriendelik groet, sê dis ’n mooi dag en dat die Kaap beslis die mooiste plek op aarde is. Maar sê nou net sy is nie alleen nie? Sê nou net sy wag maar net vir ’n vriend of eggenoot?

Ja, die vent is seker net in die restaurant en sal natuurlik enige oomblik uitkom. Ek wip weer my rugsak in posisie en net toe ek wil stap, staan sy langs my. Ons kyk in mekaar se oë en ek weet onmiddellik dat my lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie.

Lees môre hoe die verteller op Beatrice verlief raak...