DEUR BUKS DE KOKER        

DIS ’n vuur dié wat alles gaan verteer, dink ek met my linkerarm oor my oë gelig. Gulsig, onversadigbaar verorber die geel vlamme alles in hul pad, van reuse bome tot delikate fynbos.

Alles word houtskool, roet en as. Diertjies, voëls en insekte kom ook om in hierdie knetterende hel. En miskien gaan Beatrice dit ook nie maak nie, dink ek beangs. Beatrice, die vrou wat my hart besit, wat in die klofie hier bo in die berg vasgekeer is.

‘‘Spaar haar lewe, asseblief, Here,’’ bid ek en wonder of gebede uit die hel ook verhoor word. Die selfverwyt knaag aan my. Deur my oorpak voel ek die felheid van die vuur. Links sien ek die ander brandslaners in ’n linie uitgesprei: krygers al vegtend teen ’n versengende vyand.

Soos robotte met vuurvaste pakke en helms strompel ons vorentoe, soldate met slegs swaaiende flappe as wapens. Pateties.

Beneweld deur rook besef ek ons pogings is tevergeefs: . Ek weet nie eens meer of dit dag of nag is nie.

Leef Beatrice nog? Die skuldgevoel maak my waansinnig. Skuins na links gee ’n reuse ou boom die stryd gewonne en kantel met ’n skeurende geknal na benede. Vonke spat in alle rigtings en kies dan koers na bo, druppels gloeiende goud wat van die aarde op na die hemel reën.

’n Helikopter met ’n reuse waterhouer kom in teen die wind en stort sy vrag in die gesig van die vuur. Stoom, roet en mis sis momenteel in ons ore, maar dan dreun dit voort, onverpoos – hierdie vuur uit die hel. Ek draai moedeloos weg en  sien die dag is besig om weswaarts te kwyn. Die son, bloederig rooi agter ’n stink wolk dooie lug, sak oor die Skiereiland weg.

Alles om my is dynserig en uit fokus geskroei. My gedagtes ook. Maar ek onthou die klofie waar Beatrice is glashelder. Sy en Alfredo. Ons is nou naby, want ek sien die geel kaatsing op die rotswand agter die vlamme. Die vuur het nog nie die klofie bereik nie, maar ek vrees nou dat

Beatrice en haar minnaar reeds deur die rook oorval is.

Ek voel paniekerig, want ek weet ek het ’n groot fout gemaak. Maar dis nog nie te laat nie. Ek kan dinge nog op ’n manier regmaak; ek kan haar nog red – vir haar én Alfredo. Ek draf in die rigting van die vuur en hoor iemand ’n waarskuwing skree. Maar ek spring vorentoe tot teen die rotswand, net buite bereik van die vlamme.

Ek ken die gebied soos die palm van my hand. Die hitte is versengend. Ek sien haar op die rotslys voor die klofie. Ek beduie vir haar en sy spring die 3 m af tot bo-op my.

Ons rol albei op die grond. Ek spring orent en trek haar deur die vlammegordyn, veilig tot by die brandslaners. Haar arms bly krampagtig om my nek en sy skree paniekerig in my oor.

‘‘Alfredo is nog in die klofie. Hy’s dood . . . of bewusteloos.’’ Ek spring weer deur die vuur en klim die paar meter teen die krans op tot in die klofie. Ek sleep die Italianer se lewelose

liggaam oor die lysie en ons albei tuimel die 3 m af na benede.

Twee brandslaners is by om te help met die dooie gewig van Alfredo en ons strompel terug deur die vuur. Beatrice val my weer histeries om die nek – en skielik, absurd, doem beelde van die dag toe ek haar ontmoet het voor my op…

Lees môre hoe die verteller Beatrice ontmoet het.