Vrydag 22 November 

The Rundown

SABC3  20:30

Aanhangers van The Rock moet tyd inruim hiervoor. Dwayne Johnson bult sy spiere as ’n mensejagter wat ’n bendemiljoenêr se sotlike seun deur die Amasone jaag.

Carlito’s Way SABC1  22:00 Hierdie fliek van 1993 is Al Pacino op sy beste. ’n Ouddwelmbaas wat pas uit die tronk vrygelaat is, wil bitter graag aan sy gewelddadige verlede ontsnap en nuut begin. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Sean Penn en John Leguizamo lewer ook goeie spel. Saterdag 23 November

Clash Of The Titans

SABC3  19:30

Sam Worthington trek ’n romp aan en kry koers na antieke Griekeland. Hy vind uit sy pa is die god van donderweer, Zeus, en word aangesê om die wêreld (en ’n meisie in die nood) van sy bose oom Hades te red. Met Liam Neeson as Zeus en Ralph Fiennes as Hades.

Wêreldrugby M-Net/CNS/SS1 21:00 Dis die Bokke se tweedelaaste toets van 2013. Die wedstryd teen Frankryk in Parys sal waarskynlik uitdagender wees as verlede week se toets teen die Skotte. Kom ons hoop die ouens het hul wedstrydplan agtermekaar om die Les Tricolores te pak. Vive, les Springbokke! Sondag 24 November  Remember The Titans SABC1 20:00 

Die rasverdeelde Amerika van die 60’s was nie maanskyn en rose vir baie van sy inwoners nie. Maar ’n passievolle voetbalafrigter (Denzel Washington) kry dit teen alle verwagting in reg om ’n span skoolseuns van verskillende rasse te laat saamwerk en toernooie te wen. Dis amper so koel soos die Bokke wat in ’95 die rugbywêreldbeker wen. Amper.

Life Of Pi

M-Net 20:05

’n Jong man oorleef ’n seeramp en die enigste ander oorlewende  (wat voor hom by die reddingsboot uitkom) is ’n wrede Bengaalse tier. Hierdie epiese rolprent het vier pryse by vanjaar se Oscars gewen. Dis op die blitsverkoper deur Yann Martel gegrond.