Oe, jong die tonge klap!

Nou meer as ooit . . . Net twee weke gelede het ons geskryf hoe keelvol lesers is vir 7de Laan se Gita (Basta met Gita, 23 Augustus) en die briewe stroom nou nog in.

Kyk net weer hoe gons dit op vandeesweek se brieweblad (bladsy 4). Dié manipulerende geitjie maak aanhangers van die gewilde sepie omtrent die hoenders in. Is jy ook in die weg-met-Gitakamp?

Of dalk het jy nog bose plannetjies waarmee Gita vorendag kan kom. Nou kan jy jou verbeelding vrye teuels gee en ons vertel hoe jy van dié feeks ontslae sou raak of wat Gita nog alles in die mou sou voer as jy die storie kon geskryf het. Boonop kan jy ’n lekker prys wen.

Dis maklik. Skryf vir ons hoe jy dink Gita se storielyn moet lyk en wen ’n besoek vir twee aan die 7de Laan-stel in Johannesburg. Dit sluit reis en verblyf in, waar nodig. ’n Sterbelaaide dag is dalk op jou horison . . .

En nee, ons soek nie liggewigplanne nie. Laat Gita sommer goed les opsê! Of tot inkeer kom.

Maar wees realisties, en onthou: 7de Laan is ’n gesinsprogram en almal kyk saam, van ouma tot kleinsus. Jou storie gaan

nietemin nie rêrig gebeur nie, want 7de Laan se vervaardigers het klaar hul eie plan met Gita.

Dis sommer net vir die lekker. Het jy klaar ’n voorstel, of wonder jy nog? Want ’n paar lesers het al idees. “Laat Gita asseblief tronk toe gaan en gooi die sleutels weg,” het iemand juis nou die dag geskryf.

“Viva Gita! Gee haar baie geld. Sy moet soos die Mafia wees, net erger,” skryf ’n ander 7de Laan-kyker en Gita-ondersteuner. Die vraag is nou: Hoe sal jy met haar maak? Laat weet ons – ons tone krul al!

Maak so:

  • Ontspan, laat jou gedagtes gaan en stuur ons jou plan.
  • Doen dit per e-pos, in nie meer as 300 woorde nie, waarin jy vertel wat jy met Gita sal maak. Merk die onderwerpveld so: Gita-kompetisie, en stuur dit aan gita@huisgenoot.com.
  • Sluit jou naam, ouderdom, adres en kontakbesonderhede by die e-pos in.
  • Inskrywings moet ons voor 11 September om 17:00 bereik. Gou spring; die tyd is min!