Om na die ruimte te reis is nou ’n werklikheid.

A photo posted by NASA (@nasa) on

Die eerste ruimtetoeriste het ’n mark geskep vir enigiemand wat dit kan bekostig om ruimte toe te gaan, dus kan jy dalk die volgende een wees.

Nadat ek deur die Gateway to Space-uitstalling in die Sandton-konferensiesentrum gestap het, het ek gewonder oor die ondervinding van reis deur die ruimte.

Die gedagte aan sit in die beheerkamer met die baie knoppies en liggies, was oorweldigend – ook om in die lewensgrootte vertrek van ’n ruimtetuig te staan waar die skuins hoek jou van balans gooi.

Die Amerikaner Dennis Tito, die eerste ruimtetoeris, het in 2001, nadat hy ’n jaar lank opleiding in Rusland ondergaan het, verkies om homself te finansier in sy pogings om die ruimte te ontdek.

Nadat die Russe toegestem het om Dennis die ruimte in te neem, het Nasa, een van die voorste organisasies rakende ruimtereise, probeer om Dennis se planne te fnuik deur die Russe af te raai om hom toe te laat om te gaan.

Dit het hom nie van stryk gebring nie en hy is op 28 April 2001 ruimte toe. Hy het ses dae aan boord van die internasionale ruimtestasie deurgebring voor hy in Kazachstan neergestryk het.

Wat kan dan nou beter wees as om die eerste ruimtetoeris te wees? Wel, Mark Shuttleworth was die eerste Suid-Afrikaner wat die heelal deurkruis het. Mark het, ’n jaar ná Dennis se reis in 2001, ook sy visier op die ruimte gestel.

Nes Dennis het Mark ’n jaar lank opleiding in Rusland gekry voor hy in 2002 na die Sojoes TM-34-ruimtestasie gelanseer is. Mark het nie alleen sy stempel afgedruk as ruimtevaarder nie, maar ook as filantroop wat miljoene geskenk het aan opvoeding, waagkapitaal en oopbron-bedryfstelsels.

Dennis en Mark het ’n nuwe mark vir ruimtetoerisme oopgestel, waar die terrein van ruimte-ontdekking vorentoe nie net die elite beskore gaan wees nie. Verskeie mense het sedertdien die avontuur gesmaak om hul droom van ruimtereise te haal, hoewel hulle nog nie die aarde se wentelbaan bereik het nie, maar om meer as 50 km die lug in te reis, is genoeg om gewigloosheid te ervaar en ’n kykie te kry op die prag wat ons blou-en-groen planeet uitmaak.

Die Gateway to Space-uitstalling wys hoe dit alles moontlik geword het. Van Joeri Gagarin, die eerste mens in die ruimte, tot by Neil Armstrong, die eerste man op die maan, is die mensdom in wetenskaplike vooruitgang ingeskiet en dit het almal nader aan die ruimte gebring as jou gemiddelde satelliet.

Nog inligting kan verkry word by die Gateway to Space-uitstalling in die Sandton-konferensiesentrum. Die uitstalling duur tot 31 Julie. Dit sluit ’n opvoedkundige uitstalling en gesinsgeoriënteerde speelgebied in. Kaartjies is by Computicket beskikbaar. Besoek die webwerf by www.gatewaytospace.co.za vir nog inligting.

Bronne: Markshuttleworth.com; Observer.com; Space.com

Bloginskrywing: Jean-Luc Greyvenstein