Die oorblywende drie Saktyd-deelnemers vertel bietjie meer oor hulself.

Jeannie Erasmus

1. Wat was jou gunsteling Saktyd-uitdaging tot dusver?

Vir seker die uitdaging waar ons ’n erfenisdis moes kies, voorberei en stileer. Dit was ’n lekker uitdaging (omdat ek nie so baie tyd in die kombuis spandeer nie) en ook goed vir my hart om ’n stukkie van myself en my familie met almal te kon deel.

2. Vertel ons iets oor jouself wat die kykers dalk nog nie te sien gekry het nie?

Ek lees die HAT in my vrye tyd, en hou daarvan om interessante Afrikaanse woorde te ontdek.

3. Watse eienskap waardeer jy die meeste in ’n kollega?

’n Kollega wat eerlik, op die man af en hulpvaardig is, is altyd lekker om mee te werk, want dan weet jy ten alle tye waar jy staan met daardie persoon en kan julle ’n goeie verhouding bou.

4. As jy ’n onderhoud met enige Suid-Afrikaanse bekende kan voer, wie sal dit wees?

Ek sal baie graag ’n onderhoud met Johann Rupert wil voer, ek het ongelooflike baie respek vir hom en dink mens kan ongelooflik baie by hom leer. Hy is ook 'n groot voorstander vir die bewaring van Afrikaner kuns en kultuur, iets waarvoor ek ook ’n passie het. 5. Wat is jou gunsteling vakansieplek in Suid-Afrika? Knysna

Astrid Lippert

1. Wat was jou gunsteling Saktyd-uitdaging tot dusver?

Ek dink dit was definitief die kosmaak-uitdaging. Dit het my regtig teruggeneem na my kinderdae en ook na my Ouma toe. Die uitdaging was lekker en gemaklik, sonder om te stres oor enige spelfoute of jou skryfstyl. Ek is ook 'n baie kreatiewe persoon en die stilering van die verskillende disse was lekker - so het ek ook van die ander geleer en gesien waarmee hulle grootgeword het.

2. Vertel ons iets oor jouself wat die kykers dalk nog nie te sien gekry het nie?

Ek sou sê ek is 'n perfeksonis. Ongelukkig omdat dit 'n kompetisie is, het tyd nie altyd in my guns getel om myself te bewys soos ek graag wou nie. Die feit dat jy slegs 'n sekere hoeveelheid tyd het om 'n taak te voltooi was soms 'n groot probleem vir my want ek wil alles te perfek hê. Foute pla my, veral as dit onnodige foute is.

3. Watse eienskap waardeer jy die meeste in ’n kollega?

Eerlikheid en vriendelikheid - iemand wat jou elke oggend met 'n glimlag groet. Werk kan soms baie stresvol wees, en die laaste ding wat jy nodig het is ’n nors en onvriendelike kollega. Dit is ook lekker om met iemand te werk wat nie sy persoonlike probleme werk toe bring nie!

4. As jy ’n onderhoud met enige Suid-Afrikaanse bekende kan voer, wie sal dit wees?

Ek sou sê Nataniël! Wat 'n amazing profiel - iemand plat op die aarde, maar tog so gesofistikeerd. Alles wat uit sy mond kom laat jou lag - ek dink dit is wat ons as Suid-Afrikaners baie nodig het - om meer te lag. En dan sekerlik Esmaré Weideman (Media24 se uitvoerende hoof) en Zelda La Grange (voormalige President Nelson Mandela se persoonlike assistent). 5. Wat is jou gunsteling vakansieplek in Suid-Afrika? Koffiebaai sonder twyfel. Dit is afgeleë en ek is mal oor die Oos-Kaap en sy kultuur. As ek moet terug dink aan my kinderdae en studentelewe, dan sal dit seker maar Arniston wees.

Christiaan Boonzaier

1. Wat was jou gunsteling Saktyd uitdaging tot dusver?

Op ’n vreemde manier was my gunsteling-uitdaging tot dusver die mooimaaksessie, waar ons die kans gegun is om ’n Huisgenoot-leser mooi te maak. Ek is nie naastenby ’n mode-ghoeroe of haarstilis nie (en ek is bly hulle het nie gewys waar ek vir die leser naellak moes uitkies nie – dit was ’n ramp!), maar om ’n hand te hê in die emosionele mooimaakproses en ’n wildvreemdeling beter te laat voel oor haarself, het my meer verryk as wat ek gedink het.

2. Vertel ons iets oor jouself wat die kykers dalk nog nie te sien gekry het nie?

My persoonlike rekord vir die meeste soesji-stukke wat in twee uur opgeëet is, staan op 52. :)

3. Watse eienskap waardeer jy die meeste in ’n kollega?

Kollegas wat kundig en ernstig is oor hul werk, maar wat ook tegelykertyd laf kan wees. Maar dis vir my die belangrikste om met mense te werk wat hul werk wíl goed doen, sodat ek in daai omgewing ook die hele tyd gemotiveerd bly om te presteer.

4. As jy ’n onderhoud met enige Suid-Afrikaanse bekende kan voer, wie sal dit wees?

Ek kan nie net een uitwys nie: Lindiwe Mazibuko, Nicky Oppenheimer, Lizz Meiring (die eerste persoon wat ek in my lewe – op 7-jarige ouderdom – op TV gesien het), Koos Bekker (ek wil weet of hy my friend request op Facebook sal accept as ek hom sou invite… HA!), Steve Hofmeyr (veral as ek dit namens Huisgenoot sou kon doen), Nataniël, Jack Shepherd Smith (die eerste redakteur van SCOPE), Dali Tambo, Casper de Vries… ek kan vir ewig aangaan.

5. Wat is jou gunsteling vakansieplek in Suid-Afrika?

Die Outenikwaberge – ek het nog nie iets mooier as dit ervaar nie.

Hier is die lusmaker vir vanaand se episode: