THERESE BENADE, ’n produksie-assistent

Ons ken haar as die nare Astrid in die kykNET-sepie Villa Rosa, maar Therese was deel van die Saktydspan. Sy het twee maande “verlof” gekry by Villa Rosa om as ’n produksie-assistent vir Saktyd op te tree.

So van die kantlyn af het sy die gebeure in Huisgenoot se kantoor fyn dopgehou . . .

Wat was jou rol in Saktyd?

Ek was die skakel tussen die stel, die plekke waar ons moes verfilm en die mense van buite wat goed wou weet. My werk was om die logistiek uit te sorteer: permitte, etes vir die span, plekke waar ons verfilm het.

Waarom moet mense die reeks kyk?

Dis eg Suid-Afrikaans en die deelnemers is wonderlike mense. Dis boonop ook so lekker om te sien wat alles by Huisgenoot aangaan, wat dit verg om ’n weeklikse tydskrif op straat te kry en wie dit laat gebeur.

Wat was jou hoogtepunt?

Die ongelooflike mense wat ek leer ken het: van die filmspan tot almal by Huisgenoot.

Wat het jou geskok?

Hoe moeilik dit is om bekendes te kry om op e-posse en telefoonboodskappe te reageer. Sjoe, wat ’n gesukkel. Ek het onderneem om voortaan altyd te reageer.

Jou laaste woord?

Ek kan nie wag om Saktyd te kyk en my naam op die erkenningslys te sien nie. Ek is regtig trots daarop dat ek deel kon wees van dié projek. En glo my, ek het baie geleer.

SAKTYD word elke Dinsdagaand 19:30 op kykNET uitgesaai. Moet dit nie misloop nie!

Volg Huisgenoot op Twitter.