Olivia probeer uitwerk wat alles in haar lewe aangaan

IS EK die enigste een wat wonder hoekom Olivia Pope se kop nog nie ontplof het van die inspanning wat dit moet verg om al die drama in haar lewe te hanteer nie? Dis vir kykers moeilik genoeg om alles te verwerk wat in haar lewe gebeur – hoe moet sý nie voel nie?

Kom ons vat saam. Mamma is ’n bose terroris, pa is gemeen en martel jou vriende, jou kêrel is die getroude president van Amerika, ’n werknemer is dalk ’n bietjie te geesdriftig in die gebruik van masjiengereedskap op mense, en die skyn-kêrel het begin om jou vriende ook dood te maak.

[caption id="attachment_72730" align="aligncenter" width="600"]Fitz, Jake en Olivia: die president, die Fixer en die skyn-kêrel Fitz, Jake en Olivia: die president, die Fixer en die skyn-kêrel[/caption]

Geen wonder Olivia leef van springmielies en rooiwyn en ongemaklike weeklikse maaltye saam met pa nie.

Haar wêreld op die oomblik laat my dink aan die chaos van Sydney Bristow se lewe in die spioenreeks Alias. Onthou jy dit nog? Sy het gedink haar pa was ’n booswig en haar mamma ’n terroris, en terwyl die arme Sydney gebreinspoel was, het haar kêrel met iemand anders getrou – wat geblyk het ’n terroris te wees.

Maar terug by Olivia. Ek het gehoop sy sou Jake die skyn-kêrel in die ware weergawe verander sodat net ’n stukkie van haar lewe normaal kan wees. Maar haar verhouding met die president is sentraal tot die verhaal en Jake probeer regtig hard om “koelbloedige moordenaar” op sy CV te hou.

Nou is ek bekommerd oor Jake en hoop hy kan dit hanteer om hoof (Command) van die verdagte B613 te wee, veral as die akteur Scott Foley sê dinge gaan nie vir sy karakter makliker word nie.

“Dit word donkerder. Hy het nooit sy oorgang na Command begryp nie, al wou hy die pos hê. Dit gebeur met baie van ons as ons uiteindelik iets kry wat ons begeer het, en dan besef dis baie meer as wat ons kan hanteer. Dis ’n enorme uitdaging en dit eis sy tol van Jake,” het hy vir The Hollywood Reporter vertel.

Om te weet dit gaan nóg donkerder word, laat my hart van voor af breek as ek dink hoe hartseer hy gelyk het toe hy Olivia gesmeek het om alles te los en saam met hom te gaan. Sug.

Ek weet nie eens waar om met haar terroris-mamma te begin nie. Ek sien nog steeds daardie prentjie in my kop waar sy haar gewrigte kou om uit die tronk te ontsnap. En dan’s daar die oudkollega-marteltoneel waar Huck Quinn se kiestande met ’n knyptang getrek en haar gesig gelek het. Die hoogtepunt van gril.

[caption id="attachment_72732" align="aligncenter" width="600"]Maya, die bose terroris-mamma Maya, die bose terroris-mamma[/caption]

En Shonda Rimes, skepper van die reeks, weet dat die gewrigkouery wreedaardig verby was. “Khandi Alexander, wat ’n wonderlike aktrise is, het net laat waai. Die spesiale effekte was verstommend, en die manier waarop dit geskiet is, was ongelooflik. Dit was ’n fantastiese toneel, maar dit het ook ’n mens se maag laat draai. Ons het dus uiteindelik die helfte uitgesny. Selfs toe het ek gevoel ‘genade, maar dis grafies’. Ek het voor die tyd getwiet ‘moenie eet voor jy dit kyk nie’. Ek het toevallig geëet voor ek dit gesien het – die lang weergawe – en dit was rampspoedig,” het sy vir vulture.com vertel.

Wat die ander wreedaardige toneel betref, sê Shonda dit maak sin dat Huck vir Quinn sal martel want sy was besig om ál nader aan die donker kant te beweeg.

[caption id="attachment_72736" align="aligncenter" width="600"]Huck en Quinn Huck (links) martel vir Quinn (regs) en Quinn werk nou vir die ander kant.[/caption]

“Dit het vir my soos die natuurlike ontwikkeling van Huck se karakter gevoel. As Quinn hierdie dinge gaan doen, dan gaan Huck doen wat Huck doen. Ek probeer om nie die karakters te dwing om te buig soos ons dit wil hê nie. As ek ’n wêreld geskep het waarin Huck hierdie soort goed doen, dan is dit hoe Huck vir Olivia beskerm, en dan is dit wat hy ook met Quinn moet doen.”

Goed, goed – maar kan ons asseblief vir ’n paar episodes nie weer ’n gesiglekkery sien nie en kan sy asseblief vir Olivia ’n normale niggie of tante gee wat minstens vir haar etes kan kook of iets . . .

* Kyk Maandag om 20:30 op M-Net na The Fixer.

- Natalie

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is  eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Volg haar op twitter@NatalieCav.