Dié Chinese motorvervaardiger maak daarop aanspraak dat die QQ3 nou beter waarde bied danksy ’n aantal opgraderings en verbeterings aan die standaardspesifikasie.

Die QQ3 is in 2008 saam met die Chery-handelsmerk in Suid-Afrika bekendgestel.

Volgens Chery is baie van die veranderings onopsigtelik en is die bestuurservaring verbeter. Binnelangs is daar ook nuwe sitplekbeslag, ’n nuwe stuurwiel, ratkierie en middelkonsole, terwyl ’n radio/CD-stelsel nou standaard in die TE-weergawe is.

Die 0,8 TE-modelle, wat voorheen net silwer geverfde staalwiele gehad het, kry nou wieldoppe, terwyl die 0,8 TX-weergawes nou toegerus is met allooiwiele en afstandbeheerde sentrale sluiting. Lugversorging is standaard in die TX, maar is opsioneel in die TE teen ’n ekstra koste van R5 000. Die TX-model kos R94 900.

Hierdie twee QQ3-modelle word aangedryf deur ’n driesilinderenjin van 800cm3 wat 38 kW krag en 70 Nm wringkrag ontwikkel. Volgens Chery is die gemiddelde petrolverbruik 6,8 L/100 km.

Die topmodel in die QQ3-reek is die TXE, wat aangedryf word deur ’n 1,1 L-viersilinderenjin wat 50 kW en 90 Nm wringkrag ontwikkel. Die verbruik op die gesamentlike siklus word aangegee as 5,7 L/100 km.

Die TXE se standaardtoerusting sluit in lugversorging, ’n klankstelsel met CD-speler, USB-sok en vier luidsprekers, elektriese ruit- en kantspieëlverstelling, ’n sondak wat met die hand verstel word, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en dubbele lugsakke voor.

Al die Chery QQ3-modelle word gedek deur ’n waarborg van drie jaar/100 000km.

Pryse

0,8 TE: R84 900

0,8 TX: R94 900

1,1 TXE: R103 900

Chery QQ3