Discovery Insure het glo in Junie vanjaar 16,8 miljoen km se bestuurdata deur die bekendstelling van hul Driver Challenge-app bymekaargemaak.

Die Wes-Kaap het glo die land se beste bestuurders, gevolg deur Gauteng en die Oos-Kaap. Limpopo het glo die swakste gevaar.

Al is 70 persent van die bestuurders manlik, het die data getoon vroue is in die algemeen beter bestuurders. Volgens Discovery het hulle meer harde remme trap en hoër vlakke van selfoongebruik tydens bestuur opgeneem, maar mans het swakker gevaar wat spoed en draaie betref.

In die opname is bevind dat bestuurders hul motor verbeter het deur die app ’n paar dae te gebruik.

Gebruikers met ’n telling onder 50 het oor die volgende twee dae van gebruik met gemiddeld 20 persent verbeter. Dié met hoë tellings (70 of meer) het oor dieselfde tydperk met sewe persent verbeter. Blykbaar het 10 persent van die bestuurders ná die eerste dag hul telling met minstens 10 verbeter.

Anton Ossip, Discovery Insure se hoof uitvoerende beampte, sê: “Ons is bemoedig deur die groot reaksie tot dusvêr, wat wys Suid-Afrikaners is passievol daaroor om ’n positiewe verandering in hul bestuursgedrag te maak.

“Ons is veral ingenome daarmee dat die meeste gebruikers hul telling binne ’n kort tyd kon verbeter; mense wil dus hul bestuursgedrag verbeter as hulle die hulpmiddels het”

Meer as 36 000 mense het die Driver Challenge-app afgelaai, wat terugvoer in werklike tyd op hul bestuurstyl gee.

Met hul slimfoon se versnellingsmeter, giroskoop en globale posisioneringstelsel kry gebruikers terugvoer oor hoe hulle remme aanslaan, draaie vat en hoe goed hulle agter die stuurwiel konsentreer (soos om hul selfoon agter die stuurwiel te gebruik).

Bestuurders kry ’n telling tussen 0 en 100 en kry ’n posisie op ’n punteleer.

Die uitdaging eindig in Augustus vanjaar.

Die top-bestuurders volgens provinsie is:

  1. Wes-Kaap
  2. Gauteng
  3. Oos-Kaap
  4. Noordwes
  5. Vrystaat
  6. Noord-Kaap
  7. KwaZulu-Natal
  8. Mpumalanga
  9. Limpopo