Ons het Volkswagen se luukse Touareg sportnutsvoertuig onder hande gehad.

[post-slider]

Hier is sewe goed wat jy moet weet van dié bielie van ’n sportnutsvoertuig:

  1. Die Touareg se mededingers is veral die Jeep Grand Cherokee en die Land Rover Discovery, maar is dalk ook ’n (effens) goedkoper alternatief vir Porsche se Cayenne.
  2. Die tweede geslag Touareg is in 2010 plaaslik bekend gestel, maar in 2014 het dit ’n gesigsontrimpeling ondergaan wat dit nou meer aggresief laat lyk. Van die ontwerpsveranderings sluit in ’n nuwe sierrooster wat nou vier horisontale chroomstawe pleks van net twee het, die hoofligte is breër gemaak, die luginlate is groter en die misligte is na die verste hoeke van die buffer geskuif. Agterlangs is daar nie dramatiese veranderings nie, maar daar is herontwerpe LED-misligte.
  3. Aan die binnekant het VW nie te veel gepeuter nie, maar daar bietjie meer chroom afwerking en ’n herontwerpte knoppie of twee.
  4. Ons toetsmodel was die kragtige V8 TDI wat 250?kW se krag en ’n allemintige 800?Nm se wringkrag uitskop.
  5. Die vlagskip-V8 het al die luukse en geriefskenmerke waarvan jy kan droom. Dit sluit onder meer in selfstop, kameras rondom, satellietnavigasie, volgafstandbeheer en baanwisseling, om net ’n paar te noem.
  6. Ons toetsmodel het ook VW se indrukwekkende 4x4-pakket, wat hulle Motion “Terrain Tech” noem, gehad. Dit beteken dat die Touareg toegerus is met ’n middel- en agtersluitewenaar, ’n laestrek-ratkas en die vermoë om ’n 45°-helling uit te klouter. Lugvering is ook hierby ingesluit en dit kan die bakwerk tot ’n allemintige 30?cm-grondvryhoogte ophys.
  7. Die topmodel, wat ons gery het, ’n prys van meer as ’n R1-miljoen!
Slotsom Volkswagen se Touareg hoef geensins vir sy mededingers terug te staan nie. Bougehalte, rygenot en selfs sy 4x4-vermoë is nie te versmaai nie.
'Bougehalte, rygenot en selfs sy 4x4-vermoë is nie te versmaai nie.'

Tog sal die Touareg waarskynlik eerder as ’n alledaagse ryding eerder as ’n veldrywa ingespan word.

Boonop is die V8 wat onder die enjinkap skuil regtig indrukwekkend, maar die V6-turbodieselmodel is ’n beter (en goedkoper) kopie.

Die Touareg is ook ’n reuse ryding en agter die stuur is jy nogal bewus van sy grootte. Dus, is dit in stadverkeer soms bietjie uitdagend om dié groot ryding te bestuur.

Maar, Volkswagen verdien volpunte vir die Touareg se bougehalte en gemak.

  • Model: V8 TDI Executive
  • Prys: R1 010 400
  • Enjin: 4,2 L V8 turbodiesel
  • Krag: 250 kW @ 4 000 r/min
  • Wringkrag: 800 Nm @ 1 750 2 750 r/min
  • 0-100 km/h: 5,8 sekondes
  • Topspoed: 240 km/h
  • Gemiddelde brandstofvebruik: 9,1 L / 100 km