Ons het Volkswagen se opgekikkerde Polo-model toetsbestuur en weer eens besef hoekom dit 'n wenner is.

[post-slider]

’n Rukkie gelede het Volkswagen die gewilde Polo, wat een van Suid-Afrika se topverkoper-motors is, opgekikker.

Op die oog af is die veranderings, wat onder meer ’n platter sierrooster, herontwerpte buffers en LED-agterligte insluit, nie dramaties nie en sien jy nie maklik die verskil wanneer dit langs die ou weergawe geparkeer is nie. Daar is darem ook nuwe allooiwiele wat darem die opgeknapte Polo ietwat varser laat lyk.

Binnelangs is daar nuwe sitplekbekleding, terwyl die paneelbord ook effens herontwerp is en daar ook nuwe instrumentasie is. Die belangrikste is dat die Polo nou ’n USB-sok het wat eintlik al lankal ’n standaardkenmerk in sy mededingers is. Daar is ook ’n nuwe multimediastelsel met ’n raakskerm en Bluetooth. Daar is ook geen twyfel dat die Polo steeds bo sy mededingers uittroon ten opsigte van binne-afwerking nie wat nou selfs beter as tevore voorkom. Dit sal ook ’n goeie gesinsmotor uitmaak aangesien daar genoeg ruimte vir vier passasiers is en die bagasieruim is 280 L groot.

'Die eintlike hoogtepunt is die Polo se moderne 1,2 L-turbo-enjin.'

Maar, die eintlike hoogtepunt is die Polo se moderne 1,2 L-turbo-enjin, wat ook in die Golf en Beetle beskikbaar is. Moenie dat die enjin se kapasiteit jou flous nie, want sy vertoning is gelykstaande aan dié van ’n gewone 1,6 L. (In die Highline-weergawe wat ons getoets het, is die kraglewering 81 kW.)

Boonop voel dit kragtig en lig, terwyl dit ook lekker sportief klink. Dit is ’n indrukwekkende kragbron en Volkswagen maak aanspraak op ’n verbruiksyfer van 5,1?L per 100 km, hoewel die syfer wat ek volgens die ritrekenaar gekry het sowat 5,8 liter was – wat steeds goed is.

Die Polo is regtig fluks en die turbo-enjin sukkel nooit nie. In die stad en selfs op die oop pad voel die Polo rats, terwyl jy aan die binnekant min pad- en windgeraas bespeur.

Die sterkste mededinger vir die Polo is die Ford Fiesta, wat ook ’n indrukwekkende ryding is. Tog voel die Polo luukser, stiller en ietwat meer verfynd as die Fiesta.

Slotsom

Ongelukkig is die Polo nie meer ’n goedkoop ryding nie, maar dit bied steeds waarde vir geld. Die rede is dat dit jou nie sal teleurstel nie en ’n goeie ry-ervaring bied – boonop voel die gehalte asof jy net sowel agter die stuur van ’n Audi kon gewees het.

  • Model: VW Polo 1,2 TSI Highline
  • Prys: R237 400
  • Enjin: 1,2 L turbopetrol
  • Verrigting: 81 kW @ 5 000 r.p.m.; 175 @ 1 500 r.p.m.
  • Topspoed: 196 km/h
  • Branstofverbruik: 5,1 L / 100 km (gemiddeld)

polo-41_880x500