[post-slider]

Die Jetta is deesdae ’n baie luukse, gemaklike ryding teenoor die eerste generasie, wat eerder ’n brood-en-botter-model vir Volkswagen was en vir die massas bedoel was.

Ook anders as die vorige Jetta-geslagte wat eintlik maar ’n sedanweergawe van die Golf was en baie kenmerke en ’n onderstel met sy gewilde luikrugfamilielid gedeel het, is hy nou ’n model in eie reg. Hy deel wel enjins, ratkaste en ’n paar meganiese eienskappe met die Golf. Volkswagen het boonop vroeg vanjaar nuwe lewe in die Jetta geblaas met ’n subtiele kosmetiese opknapping, terwyl die paneelbord binnelangs ook nou moderner is. Ons het die topmodel, die 2.0 TDI Highline, toetsbestuur en is eintlik sprakeloos gelaat oor hoe briljant en luuks die motor is.

'Binne is die bougehalte indrukwekkend.'

Binne is die bougehalte indrukwekkend en kon dit net sowel ’n Audi-produk gewees het. Van die standaardkenmerke is klimaatbeheer, spoedbeheer, ’n multimediaklankstelsel met Bluetooth, reënsensors en outomatiese hoofligte. Opsionele luukses is leerbekleedsel, satellietnavigasie en bi-xenonligte met LED-dagryligte.

Die Jetta was nog altyd ’n gerieflike gesinsryding en is dit in sy jongste gedaante steeds, want daar is oorgenoeg plek vir ’n gesin van vier en hul bagasie. VW maak daarop aanspraak dat die Jetta se kattebak van 510 L die grootste in sy klas is.

Soos altyd is dit baie moeilik om fout te vind met Volkswagen se enjins, en ons toetsmotor se 2,0 L-viersilinder-turbodiesel en sesspoed outomatiese ratkas het ons beïndruk. Dit is meer as gewillig en nogal ekonomies.

Ons het byna 850 km tydens ’n langpadrit op ’n enkele brandstoftenk gery – en soms is nogal voet in die hoek gesit. Volkswagen maak aanspraak op ’n gemiddelde dieselverbruik van 5,7 L per 100 km en ons het dit byna geëwenaar – en dit onder normale omstandighede! Slotsom Hoewel die Jetta se mededingers tradisioneel sedans soos die Toyota Corolla- en Opel Astra-sedan insluit, is die Jetta eintlik ’n trappie of twee bo hulle verhewe. Soos genoem, voel dit eintlik of jy eerder ’n Audi bestuur danksy die Jetta se topgehaltegevoel.

'Dit voel of jy eerder 'n Audi bestuur.'

Die 2.0 TDI-model is dalk ’n raps te duur; ons sou eerder die 1.6 TDI-weergawe kies omdat hy ook oorgenoeg krag en uitstekende brandstofverbruik bied.

Die Jetta bewys dat Volkswagen maar net weet hoe om van die wêreld se beste voertuie te bou.

Hy het boonop al die nodige veiligheidskenmerke, en meer. Baie gesinne wil eerder met ’n sportnutsvoertuig ry, maar dit kan die moeite werd wees om ook die Jetta te oorweeg.

  • Model: Jetta 2.0 TDI Highline
  • Prys: R360 900
  • Enjin: 2,0 L-turbodiesel
  • Krag: 103 kW @ 4 000 r/min
  • Wringkrag: 320 Nm @ 1 750-2 500 r/min
  • Gemiddelde brandstofverbruik: 5,7 L/100 km