Volkswagen se Golf word as een van die beste passasiersmotors ter wêreld gereken, maar vir sommige gesinne is dit dalk nie ruim of prakties genoeg as ’n alledaagse ryding of om die langpad mee aan te durf nie. Nou is daar ’n heelwat ruimer weergawe, die Golf SV, beskikbaar. [post-slider]

(SV staan vir Sports Van.) Die SV deel sy gene met die standaard-Golf. Dit is op dieselfde platform gebou en trek darem na die Golf, maar asof hy ietwat molliger is. Hy is teen 4,4?m sowat 8,3?cm langer, 8?mm breër en 12,6?cm hoër as die Golf. Boonop is die asafstand ook 4,8?cm, wat veral daartoe bydra dat die SV se kajuit heelwat groter as dié van ’n Golf is.

'Die SV se laairuimte is 500 L teenoor die Golf se 380 L.'

Om jou ’n idee te gee van hoeveel meer plek daar is, sluk die SV se laairuimte 500 L teenoor die Golf se 380 L.

Verder kan die agtersitplekke 18?cm vorentoe of agtertoe skuif wat tot 90 L se ekstra ruimte byvoeg, maar sonder om dit knap te maak vir passasiers agter.

Uiteraard kan die agtersitplekke ook plat slaan, wat die laairuimte nog verder vergroot.

Daar is meer as genoeg ruimte vir passasiers en veral been- en kopruimte is indrukwekkend.

En soos die Golf en ander Volkswagen-modelle is die afwerking binne van topgehalte en is die SV goed toegerus.

Daar is standaardkenmerke soos ’n selfstopfunksie, ’n multimediastelsel met ’n raakskerm en Bluetooth, satellietkontroles op die stuurwiel, sewe lugsakke en outomatiese ruitveërs.

Moenie toelaat dat die 1,4-enjinkapasiteit jou flous nie. Dis ’n turbo-petrolenjin met genoeg skop en boonop baie verfyn. Dit is ongelooflik stil en die klankdemping is goed.

Moenie dink die SV se groter lyf laat hom lomp voel nie – die motor voel rats en bied ’n gesofistikeerde rit.

Slotsom

Die Golf SV is ’n sinvolle ryding vir gesinne wat ’n gerieflike, luukse- en ruim ryding soek, maar nie noodwendig ’n duur sportnutsvoertuig kan bekostig nie. Dit is ’n bietjie goedkoper as Volkswagen se Tiguan en beter toegerus en bied meer ruimte.

Sy mededingers sluit onder meer die veel duurder Mercedes B-klas en BMW Active Tourer in – hoewel jy dalk ook na die ietwat goedkoper Opel Meriva kan kyk, maar dié bied minder ruimte.

Die Golf SV het dalk nie ’n opwindende voorkoms nie, maar dit is ’n motor wat jou baie plesier sal verskaf. Dit is ’n voertuig wat jy weens gesonde verstand sal koop en is in alle opsigte ’n veilige, slim keuse.

Model: VW Golf SV 1,4 TSI Comfortline

Prys: R325 200

Enjin: 1,4 L turbo-petrol

Krag: 92 kW @ 5 000

Wringkrag: 200 Nm @ 6 000

Petrolverbruik: 5,4 L/100 km gemiddeld (6,2 L soos deur HG getoets)