Volvo se opgeknapte XC60 kwyt hom goed van sy taak as ’n sportnutsvoertuig vir die stad: Hy is stylvol en boonop luuks.

[post-slider]

Terselfdertyd bied hy beter geldwaarde as sy mededingers, veral omdat sy standaardtoerusting baie omvattend is vergeleke met soortgelyke sportnutse wie se prys redelik styg weens bykomende kenmerke.

Die XC60 se onlangse opkikkering behels onder meer klein stileringsveranderings soos nuwe buffers, herontwerpte ligte en ’n nuwe sierrooster. Binnelangs is daar ’n rits veranderings. Die instrumentepaneel is byvoorbeeld nou volkome digitaal. Dis ook lekker ruim met oorgenoeg pakplek.

Ons toetsmodel was die T5. Hy het ’n gewillige 2 L-petrolturbo en oorgenoeg woema, met 177 kW-krag en 320 Nm-wringkrag. Dié model het ’n outomatiese sesgangratkas met seepgladde skakeling.

Die XC60 bied beslis ’n gerieflike rit; dis veral opvallend hoe stil die motor is. Hantering is goed en jy voel boonop baie veilig, aangesien dit ’n stewige ryding is met talle veiligheidskenmerke.

Slotsom

Die XC60 is ’n goeie kopie en sal jou beïndruk met sy gerief en aangename rit.

  • Model: XC60 T5 Powershif Excel
  • Prys: R486 800
  • Enjin: 2,0 L-turbopetrol
  • Krag: 177 kW @ 5 500 r.p.m.
  • Wringkrag: 320 Nm @ 1800 – 5000 r.p.m.
  • Brandstofverbruik: 8,5 L/100 km (gemiddeld)
  • 0-100 km/h: 8,1 sekondes