Ons het die Cross Country D4 toetsbestuur.

[post-slider]

Hoewel die Cross Country-weergawe inherent presies dieselfde motor as sy V40-eweknie is, lyk dit meer na ’n kompakte sportnutsvoertuig en het dit darem ook ’n bietjie meer grondvryhoogte as die standaard-V40. Die Cross Country se voorkoms is regtig treffend en dit lyk ook sportief – ja, dit is definitief nie ’n vervelige Sweed nie! Boonop pas die D4 se 2,0 L-turbodieselenjin die robuuste voorkoms baie goed. Hierdie kragbron ontwikkel 130 kW en 400 Nm se wringkrag, wat glad nie te versmaai is nie. Die krag word via ’n gladde sesspoed outomatiese ratkas na die voorwiele gestuur.

'Die Cross Country kwyt hom ook goed van sy taak as ’n alledaagse ryding in die stad of in verkeer.'

Uiteraard is die Cross Country redelik vlugvoetig, en veral op die oop pad is die motor net ’n plesier. Daar is altyd krag wanneer jy dit nodig het, maar die Cross Country kwyt hom ook goed van sy taak as ’n alledaagse ryding in die stad of in verkeer. Dit hanteer redelik goed, terwyl die brandstofverbruik glad nie sleg is nie.

Ons toetsmotor was in die Excel-afwerkingsvlak en het ook ’n opsionele sportpakket gehad, wat beteken dat dit bykomende kenmerke soos xenon-hoofligte en LED-dagryligte gehad het.

Nie dat daar ook ‘n tekort aan standaardkenmerke is nie. Dié Volvo het talle luukses en foefies, en omdat dit die Excel-weergawe is, sluit dit kenmerke in soos spoedbeheer, parkeersensors agter, Bluetooth, ’n topgehalte-klankstelsel en ’n elektries verstelbare bestuurdersitplek.

Dit is regtig moeilik om fout te vind met die Cross Country – dis ’n gemaklike motor, die gehalte blyk goed te wees, dit is ongelooflik veilig en die enjin is glad nie sleg nie. Tog kan ’n mens dalk eerder die goedkoper D3-weergawe oorweeg, want jy gaan nie noodwendig aldag die D4 se krag en verrigting benut nie.

Die V40 is ook nie ’n slegte keuse nie, want dit steek glad nie af teenoor sy mededingers nie, soos die die Mercedes A-klas en Audi A3 Sportback.

Model: Volvo V40 Cross Country D4 Elite

Prys: R403 700 (uitsluitend die sportpakket)

Enjin: 2,0 L-viersilinder-turbodiesel

Krag: 130 kW

Wringkrag: 400 Nm

0-100km/h: 8,3 sekondes

Gemiddelde brandstofverbruik: 5,2 L/100 km