Model: Toyota RAV4 2,5 Auto VX

Toyota se RAV4 is al amper twee dekades lank ’n gewilde keuse in die sportnutsvoertuigmark, maar die vierdegeslag-RAV4 verskil baie van die oorspronklike model. Waar die eerstegeslag-RAV4 van die 90’s ’n ougat voorkoms gehad het, lyk die jongste weergawe meer konserwatief.

Die hedendaagse RAV4, met sy lae profiel, lyk ook meer soos ’n stasiewa wat ’n skoot steroïde gehad het. Maar in geheel hou ons van die RAV4 se voorkoms en boonop voel die voertuig baie stewig.

Binnelangs is daar oorgenoeg ruimte en die laairuim van 476 L is ook ’n pluspunt. Verder is die RAV4 nogal spoggerig ook, met kenmerke soos sleutellose toegang, leerafwerking, ’n klankstelsel met ’n raakskerm en verhitte sitplekke.

Die RAV4 se rit en hantering stel ook glad nie teleur nie, en die klankdemping is redelik goed. Boonop het die topmodel wat ons bestuur het vierwielaandrywing, en sy sesspoed outomatiese ratkas werk seepglad. Wat veral verras, is dat die stuur lekker lig is vir ’n voertuig van hierdie grootte.

Dié voertuig is so reg in die kraal van gesinne wat ’n veilige en betroubare ryding soek wat perfek is vir daaglikse gebruik, maar ook ingespan kan word vir langer rite.

Prys: R410 300

Enjin: 2,5 L, petrol; 132 kW; 233 Nm

Brandstofverbruik: 8,5 L/100 km (gemiddeld)

Verrigting: 0-100 km/h 9,4 sek.; topspoed 180 km/h

Waarborg: 3 jaar/100 000 km

Diensplan: 5 jaar/90 000 km

Wilmer Müller

rav4-agter rav4-binne