Die vyf beste motors hier sal ons byvoorbeeld almal graag wil besit. Elkeen is uitstekende waarde vir geld en ’n plesier om te bestuur. Die koning hier in Suid-Afrika was nog altyd Volkswagen se Golf. Is hierdie nuwe, verfraaide Auris ’n waardige troonopvolger?[post-slider]Van buite het die Japannese motor se voorkant ’n bietjie verander deurdat die sierrooster en voorligte effens aangepas is. Gelukkig is nie te veel getorring aan die mooi ontwerp van die vorige model nie. Binne is die kajuit lekker ruim en die leersitplekke baie gemaklik. Dit is ook verhit, wat altyd ’n plesier is op koue wintersoggende. Die kajuit is net so mooi soos die vorige model s’n. Duursame materiale is gebruik en al die kontroles is ergonomies uitgelê. Ek mis altyd ’n volumeknop vir die klankstelsel en hier is die funksie ook afwesig. Gelukkig is die stuurwielkontroles vir die radio heel doeltreffend.

'Die sesgangratkas is seepglad en baie gerieflik op die snelweg.'

Die eerste indrukke wat bestuur betref, is goed. Die sesgangratkas is seepglad en baie gerieflik op die snelweg. Dit sorg ook vir goeie brandstofverbruik. Kraglewering is ’n bietjie teleurstellend, so ook die enjin se klank, as ek dit so kan stel – 97 kW lyk dalk goed op papier, maar die Auris voel ’n bietjie lui.

Dit was nie so erg dat dit my sal keer om een te koop nie, maar ons het ’n bietjie gehunker na Toyota se mededingers, die Focus en Civic, in dié geval. Die rit self is lekker gemaklik en die Auris hanteer ook heel skaflik.

’n Groot pluspunt is die lekker ruim kattebak. Ons kon sonder veel moeite ’n stootwaentjie en ’n week se inkopies inpas. Ek was selfs verbaas om agter te kom daar is nog boonop ’n volgrootte spaarwiel onder die vloer weggesteek. Beslis ’n groot pluspunt.

Slotsom

Die Auris is beslis een van ons topvyfmotors in die C-segment en enigiemand wat dit koop, sal nie spyt wees nie. Onttroon hy die Golf? Amper, maar nog nie stamper.

  • PRYS R287 700
  • ENJIN 1,6 L-viersilinderpetrol; 97 kW, 160 Nm
  • RATKAS Sesganghandrat
  • VERRIGTING 0-100 km/h in 10 sek. Topspoed 200 km/h
  • VERBRUIK 6,2 L/100 km gekombineerde siklus volgens Toyota; 7,0 L/100km getoets deur Huisgenoot.
  • MEDEDINGERS Volkswagen Golf, Ford Focus, Honda Civic
  • ONS HOU VAN Seepgladde ratkas, lekker ruim kattebak.
  • DIT PLA Enjin voel ’n bietjie lusteloos

- Anton Vermeulen & Wilmer Muller