’n Mens hou ook nogal maklik van dié kalant. In die oorkruisvoertuig-kategorie waarin die SX4 val, ding dit onder meer mee met die Peugeot 2008 en die intreevlak-weergawes van die nuwe Nissan Qashqai.

[post-slider]

Die vorige SX4 het naam gemaak as ’n ryding wat hom goed van sy taak kwyt, goeie gehalte bied en solied is. Die nuwe SX4 is dit waarskynlik steeds, maar bied meer gemak en ’n veel groter binneruim. Wat die voorkoms betref, trek die SX4 redelik aandag met sy bonkige lyf, rondings en aggressiewe neus – in die geheel is hy ’n aantreklike knap. Dit is duidelik dat Suzuki nogal aandag geskenk het aan die SX4 se binneruim – dit is nogal slim ontwerp en bied meer ruimte. Agter is daar byvoorbeeld 39 mm meer beenruimte, terwyl die bagasieruim 430 L beslaan. Die agtersitplek kan ook 60:40 verdeel en kan platgeslaan word.

'Die afwerking is goed en daar is ’n gevoel van weelderigheid.'

Boonop is die afwerking goed en is daar ’n gevoel van weelderigheid.

Die luukse GLX-weergawe wat ons toetsbestuur het, het onder meer ook kenmerke soos lugversorging, ’n klankstelsel met Bluetooth, parkeersensors en sleutellose toegang.

Uiteraard is die SX4 redelik veilig ook danksy ’n rits lugsakke en ABS-remme wat dit ’n Europese vyfster-veiligheidsgradering besorg het.

Op die pad stel die SX4 ook nie teleur nie en ons toetsmodel het ook Suzuki se AllGrip outomatiese 4x4-aandryfstelsel gehad. Dit het verskillende modusse wat met ’n ronde knop gekies word.

In Auto kies die motor self tussen tweewiel- en vierwielaandrywing na gelang van die padoppervlak, terwyl die Sport-modus die SX4 ratser laat voel.

In Mud/Snow trap hy heeltyd in 4x4 vas, maar jy kan in darem ook ’n afsonderlike Lock-knoppie druk om die ewenaar te sluit, wat die SX4 sal ’n bietjie moeiliker terrein sal help baasraak.

Tog kan die SX4 se beperkte grondvryhoogte van net 175 mm jou planne kelder om waaghalsiger te wees.

Onder die enjinkap is ’n 1,6 L-petrolenjin wat volgens Suzuki ’n gemiddelde brandstofverbruik van 6,2 L per 100 km het. Dié enjin kwyt hom goed van sy taak vir alledaagse ritte, maar as die SX4 bietjie swaarder gelaai is, kort dit net ’n klein bietjie meer woema om veral teen laer snelhede weg te trek.

Slotsom

In geheel is die ritgehalte heel goed en boesem die SX4 selfvertroue toe. Suzuki het weer eens ’n wenner beet, en as jy op soek is na ’n gerieflike, luukse oorkruisvoertuig of luikrug, is dit die moeite werd om ten minste na die SX4 te gaan kyk.

Model: Suzuki SX4 Allgrip handrat

Prys: R319 900

Enjin: 1,6 L

Krag: 86 kW teen 6 000 r.p.m.

Wringkrag: 156 Nm teen 4 400 r.p.m.

Gemiddelde brandstofverbruik: 6,2 L/100 km (volgens Suzuki)