Suzuki het die Splash tussen die intreevlak-Alto en die gewilde Swift-reeks geplaas. Ons het die Splash 1,2 GL van nader bekyk. [post-slider] Dit word gekenmerk deur ’n hoë daklyn, wat weer die motortjie se praktiese sy en ruimte uitlig, en ordentlike kop- en beenruimte aan alle passasiers bied. Ander ontwerpeienskappe wat die oog vang, sluit groot hoofliggroepe, ’n drukvin agter sowel as feitlik vertikale agterligte, wat die Splash ’n plat-agterkant-voorkoms gee, in.

'Daar is groot kantvensters, wat sorg vir ’n goeie uitsig.'

Daar is groot kantvensters, wat sorg vir ’n goeie uitsig en ook vir lig in die kajuit.

Die uitleg van die instrumentepaneel is eenvoudig en sonder tierlantyntjies, terwyl alles mooi pas, met goeie afwerking. Daar is ’n yslike snelheidsmeter met ’n ritrekenaar sowel as ’n periskooptipe toereteller, wat afsonderlik op die instrumentepaneel geplaas is.

Die lys van standaardeienskappe sluit in: dubbele lugsakke voor, ABS-remme, elektriese kantspieëls, handbeheerde lugreëlaar, USB/reserwesok en ’n bêreruimte-laai onder die passasiersitplek. Dit sou gaaf gewees het as hy Blue Tooth-verbinding gehad het wat in die meeste van sy mededingers beskikbaar is. Die bagasieruim is ’n aanvaarbare 236 L en, wanneer die afsonderlike 60-40- afsonderlike agtersitplekke platgeslaan word, verhoog die ruim tot 1 050 L. Onder die Splash se stomp enjinkap is Suzuki se beproefde 1,2 L-enjin, met 63 kW krag en 113 Nm wringkrag.

'Dit lyk ook nie asof hy sukkel om ander voertuie verby te steek nie.'

Die Splash, wat slegs 1 090 kg weeg, is nogal blitsig en hy loop glad.

Dit lyk ook nie asof hy sukkel om ander voertuie verby te steek nie. Hy is ideaal geskik vir stadsverkeer.

Die Splash-handratmodel se brandstofverbruik word geraam op 5,6 L/100 km in alledaagse gebruik, wat glad nie sleg is nie.

Slotsom

Met die Splash bewys Suzuki weer dat hy ’n deskundige is wat die bou van klein motortjies vir die menigtes betref.

As jy ’n nuwe rondritsmotortjie vir alledaagse gebruik soek, verdien die Splash beslis ’n plek op jou inkopielys, want hy sal jou glad nie teleurstel nie. Hy kom bowendien met ’n tweejaar/30 000 km-diensplan.

  • Prys: R134 900
  • Enjin: 1,2 L
  • Krag: 63 kW @ 6 000 r.p.m.
  • Wringkrag: 113 @ 4 500 r.p.m.
  • Transmissie: vyfgang-handrat
  • 0 – 100 km/h: 12,3 sekondes
  • Topspoed: 160 km/h
  • Brandstofverbruik: gemiddeld 5,6 L / 100 km