Die Suzuki Celerio is nog ’n aanspraakmaker in die afdeling vir bekostigbare motors, waar hy sake uitspook met die Hyundai i10, die Kia Picanto en die Renault Sandero.

[post-slider]

Hoewel die Celerio se ontwerp ietwat aan die saai kant is en hy dus nie ’n skoonheidswedstryd sal wen nie, het hy behoorlike standaardtoerusting. Wat die veiligheidsaspek betref, was ons GL-toetsmotor toegerus met twee lugsakke voor en ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding wat dit ’n taamlik veilige motor vir hierdie afdeling maak. Hy het ook lugreëling, elektronies beheerde vensters, ’n klankstelsel met Bluetooth-aansluiting vir jou slimfoon, USB- en Aux-poorte. Die radio se beheerknoppies is aan die stuurwiel gemonteer.

'Die ontwerp van sy instrumentepaneel is, soos die buitekant van die motor, eenvoudig.'

Die ontwerp van sy instrumentepaneel is, soos die buitekant van die motor, eenvoudig en daar is grootliks gebruik gemaak van harde plastiek wat ietwat goedkoop lyk en die kajuit vertoon nie so swierig soos die Picanto s’n nie. Ruimte is wel goed en daar is genoeg plek vir vier volwassenes.

Die bagasieruim is 235 L, wat nie te sleg is vir ’n motor in hierdie afdeling nie.

Soos die geval is met die res van die Celento se eienskappe, bestuur hy eenvoudig en is daar geen verrassings nie.

Baie min driesilindermotors op intreevlak bied vurige werkverrigting en die Celerio is geen uitsondering nie.

Sy 1,0 L-petrolenjin ontwikkel 50 kW en jy haal 100 km/h binne ongeveer 13 sekondes. As stadsmotor is dit egter rats, en danksy sy kompakte afmetings (en kragstuur) is dit nog maklik om met hom te parkeer ook.

Die Celerio is effens aan die raserige kant, want die geluid-isolasie is nie van die heel beste nie, maar hy ry gemaklik en hy het ordentlike padmaniere.

Slotsom

Aangesien hy uit die Suzuki-stal kom, sal die Celerio heel waarskynlik betroubare ritte bied en dit sal jou nie in die steek laat nie. Dis ’n motor wat ordentlike waarde vir geld bied, dit stip ook die regte punte ten opsigte van veiligheid aan, en dit is nogal belangrik.

Nog iets wat in sy guns tel, is sy ordentlike lys standaardeienskappe. Verfyning kon beter gewees het, en ’n bietjie meer krag sou nie onaardig gewees het nie. By die Celerio gaan dit egter om die gesegde: “Wat jy sien, is wat jy kry.” ’n Motor wat gerieflik is, wat goeie waarde vir geld bied en wat jou sonder probleme van punt A tot by punt B sal bring.

  • Prys: R124 900 (GL-model)
  • Enjin: 1,0 L, driesilinder, petrol
  • Krag: 50 kW
  • Wringkrag: 90 Nm
  • Transmissie: Vyfgang-handrat